Verwaarloosde honde wat al deur die dierewelsynorganisasie CARE in St. Helenabaai gered moes word. Foto: CARE

‘n Stille noodkreet is besig om in dierewelsynkringe oor die Weskus te weerklink.

Rolspelers hoor daagliks dié hartverskeurende noodkreet van diere wat verwaarloos, mishandel of eenvoudig net van vergeet word.

Die dierewelsynkwessie in die Weskus is volgens Thys Louw, ‘n dierewelsynaktivis, nie net ‘n geval van onverskilligheid nie, maar ‘n veelvlakkige krisis.

Die kwessie het verdiep met die Swartland- en Weskus-dierebeskermingsvereniging (DBV of SPCA) in Vredenburg, wat weens ‘n geldelike tekort nie meer rondgaande sterilisasieprojekte, voeruitdelings en opvoedingsprogramme kan aanbied nie. Die besluit is volgens Louw nie ligtelik geneem nie, maar is genoodsaak deur ‘n ernstige tekort aan geld. “Hulle het in 2025 net nie meer die hulpbronne om mobiele klinieke in die Saldanhabaai- munisipale gebied te bedryf nie.”

Nóg 'n hond word verwaarloos en verhonger by sy eienaars afgeneem.
dummNóg ‘n hond word verwaarloos en verhonger by sy eienaars afgeneem.

Louw meen dit is ‘n groot verlies vir gemeenskappe wat afhanklik was van hierdie bekostigbare en toeganklike dieregesondheidsorg. Dié afwesigheid beteken dat honderde diere sonder hulp gelaat word.”

Uit Louw se ondervinding is die krisis gewortel in armoede, onkunde, beperkte toegang tot hulpbronne en ‘n gebrek aan kapasiteit in dierebeskermingstrukture. Baie Weskusdorpe sukkel volgens hom met hoë werkloosheid, swak infrastruktuur en beperkte toegang tot gesondheids- en opvoedkundige dienste vir diere.

“In sulke omstandighede word troeteldiere dikwels laaste geag. Diere word gekoop of aangeneem sonder werklike begrip van hul behoeftes en word later aan hul eie lot oorgelaat wanneer die werklikhede van versorging duidelik word.”

Hy sê rondloperhonde en -katte is in baie dorpe ‘n algemene gesig. “Hierdie diere is dikwels nie gesteriliseer nie, wat lei tot ongewenste teelsiklusse en ‘n konstante toename in die aantal diere.” Die situasie stel hulle bloot aan honger, siektes, die weer en mishandeling en baie vrek op ‘n jong ouderdom of beland in oorlaaide, informele diereskuilings wat nie genoeg hulpbronne het nie.

Armoede, onkunde en misdaad Louw glo vas een van die hoofredes vir die dierewelsynkrisis is armoede.

“Wanneer ‘n huishouding sukkel om vir mense kos op die tafel te sit, raak hondekos of veeartsenykundige sorg ‘n ondenkbare luuksheid. Dit beteken nie dat mense nie omgee nie, maar dat hulle nie die middele het om hul diere behoorlik te versorg nie.”

Mense het ook ‘n groot gebrek aan bewustheid oor verantwoordelike troeteldierbesit. “Mense verstaan nie altyd die belangrikheid van sterilisasie, inenting of behoorlike behuising nie. Soms word ‘n hond net as ‘n ‘wagdiertjie’ beskou, vasgemaak aan ‘n paal, met min of geen menslike interaksie nie.”

Die toename in hondegevegte en onwettige teling, veral in armer gebiede, is vir Louw veral kommerwekkend. Dié praktyke is wreed, onwettig en uiters gevaarlik vir mense sowel as diere. “Honde word afgerig om mekaar vir vermaak of weddenskappe aan te val, terwyl sterk honde onder erbarmlike omstandighede vir winsbejag geteel word.”

Louw sê hierdie vorms van mishandeling neem toe en vereis dringende optrede.

Gemeenskapsinisiatiewe werk stroom-op

Volgens Louw is daar darem, ten spyte van hierdie uitdagings, ook ligpunte. Plaaslike organisasies, meestal organisasies sonder winsoogmerk en beman deur vrywilligers, werk onverpoosd teen die stroom op.

In reaksie op gerugte op sosiale media het die Saldanhabaai-munisipaliteit vroeër reeds bevestig dat hulle steeds ‘n werksverhouding met die Vredenburg-tak van die DBV het en dat die huidige kontrak geldig is tot 30 Junie. Hulle voorsien nie ‘n onderbreking in dienste nie en het reeds begin met die proses om ‘n nuwe tender aan te dui, wat intern geëvalueer word.

Louw meen hoewel hierdie bevestiging gerusstellend is, beklemtoon dit ook die afhanklikheid van dierewelsynsorg se beplanning, politieke wil en volhoubare finansiering.

Lesers kan help
“Daar is ‘n dringende behoefte aan ‘n kultuurverskuiwing – een waarin diere as voelende wesens beskou word en waarin elke mens sy verantwoordelikheid verstaan,” het Louw gesê.

Die publiek vervul ‘n sleutelrol in die oplossing van die probleem – van basiese inligting verskaf aan bure tot die ondersteuning van dierewelsynorganisasies deur geld, tyd of middele. Eenvoudige dade kan ‘n groot verskil maak, glo Louw.
Lesers kan op die volgende maniere betrokke raak:
• Help betaal om ‘n dier te laat steriliseer.
• Moedig iemand aan om hul hond op koue winternagte binne te hou.
• Meld dieremishandeling en onwettige aktiwiteite soos hondegevegte by die owerhede aan.

Pad vorentoe?

Om die krisis in die Weskus op te los, verg ‘n gesamentlike poging. Volgens Louw begin dit met bewustheid – om die probleem te erken en daaroor te praat – en dit eindig met optrede soos plaaslike betrokkenheid en druk op beleidmakers.

“Diere is weerloos. Hulle het geen stem nie – slegs die stem van mense wat bereid is om namens hulle op te staan. As ons as gemeenskappe kan saamstaan, met empatie, opvoeding en daadwerklike hulp, kan ons die bose sirkel van lyding verbreek.”

Die krisis is werklik, maar Louw glo vas daar is ook hoop, as almal bereid is om te luister, te leer en op te tree.

Sommige dierevriende soos dié hond word in haglike omstandighede gekry.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025