‘n Eenvoudige houthok hou dié hond lekker warm en beskut teen die koue. Foto: CARE St Helenabaai

Wanneer dit reën, die wind waai of dit koud is, gaan mense binnenshuis, maak vensters toe, trek ‘n baadjie aan of sit ‘n verwarmer aan. Net so het jou hond of kat ‘n plek nodig waar hulle veilig, droog en warm kan wees.

‘n Skuiling beteken egter nie net “iets oor sy kop nie” – dit beteken ‘n ruimte wat hom fisiek beskerm.

‘n Geskikte skuiling het die volgende elemente:

• Uit die wind: Reën en wind trek maklik by ‘n oop struktuur in. ‘n Skuiling moet winddig wees en nie van onder af nat word nie. ‘n Houtpalet met ‘n kussing bo-op is beter as ‘n plastiekbed op die grond.

• Droë oppervlak: Honde en katte verloor liggaamshitte vinnig as hulle op koue sement of nat grond lê. ‘n Mat, opgevoude karton of ou komberse kan help om dit te isoleer, maar dit moet gereeld droog en skoon gehou of omgeruil word.

• Warm in die winter, koel in die somer: ‘n Skuiling van sink word bitter koud in die winter en bloedig warm in die somer. ‘n Houtstruktuur met ‘n oorhangende dak en ventilasie is beter. Plastiekhutte werk ook goed as dit nie skeef of oop is nie.

• Veilig teen rondloperdiere en mense: ‘n Veilige skuiling moenie naby plekke wees waar mense verbyloop en hom pla nie. Vir katte werk ‘n verhoogde of weggesteekte plekkie goed.

• Regte grootte: ‘n Skuiling moet net groot genoeg wees sodat die dier gemaklik kan lê en draai, maar nie so groot dat hy sy liggaamshitte verloor nie.

Wat werk nie?

• ’n Ketting aan ‘n paal sonder enige skuiling werk nie – dit is wreedheid.

• ’n Sinkplaat teen ‘n muur sonder vloerbedekking of windbeskerming.

• ’n Ou boks of matras wat nat en muf is.

• Om honde of katte te dwing om in voertuie, in oop dromme of onder stukkende sinkplate te slaap.

Hierdie toestande veroorsaak nie net fisieke ongemak nie, maar ook langdurige spanning. Diere wat koud slaap, begin makliker siek word, eet minder, bewe voortdurend en kan selfs aggressief raak van ongemak.

As geld skraps is, wees kreatief en soek bekostigbare oplossings. Dis nie altyd nodig om geld uit te gee nie, maar dit is altyd nodig om moeite te doen:

• Gebruik ‘n groot plastiekhouer of emmer, sny ‘n opening in die kant, en sit ou komberse of ‘n opgevoude karton binne.

• Bou met afvalhout, of vra by bouplekke vir stukke hout wat weggegooi word.

• Gebruik dik kartondose van winkels, sit dit onder ‘n afdak en maak dit winddig met plastiek en tou.

Om ‘n goeie skuiling vir jou troeteldier te gee, sê iets oor wie jy is. Jy wys jy gee om en dat jou dier nie net ‘n “ding” is wat daar moet wees nie, maar deel van jou huis en jou hart is.

As jy nie weet waar om te begin nie, vra raad. Jou buurvrou het dalk ekstra materiaal of jou naaste plaaslike dierewelsynorganisasie kan dalk help.

Een klein verbetering kan ‘n hond of kat se lewe red. Dis winter – wees hul skuiling.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025