Diego byt vas teen kanker

September is Kinderkankermaand. Die maand plaas die kollig op dié wat geraak is deur kanker en bring hoop.


September is Kinderkankermaand. Die maand plaas die kollig op dié wat geraak is deur kanker en bring hoop.

Om Kinderkankermaand af te sluit, het Weslander met die Hendricks-familie van Saldanha gesels oor hul storie en hul seun se reis met kanker.

Dis net geloof en vertroue wat die Hendricks-familie deur een van die moeilikste stadiums in hul lewe gebring het, glo die ouerpaar Kiepie en Dorothy Hendricks.

Die paartjie moes in 2009 die hartseer nuus hoor dat breinkanker, genaamd primitiewe neuroektodermale tumor en ook bekend as PNET, ’n seldsame gewas, by hul toé tweejarige seun Diego gediagnoseer is.

Volgens Kiepie het Diego vir ’n maand of so nie lekker gevoel nie en dokters het net antibiotika voorgeskryf. Die gesin het destyds in Pretoria gewoon en is ingelig dat die klimaat dit moontlik kon veroorsaak.

Dinge het egter een oggend verander toe sy ouers sien hoe die are in Diego se kop duidelik uitstaan. Ná ondersoek by die hospitaal het dokters vasgestel Diego het ’n gewas op die brein wat meer as 70% versprei het.

“Die dokters het ons ingelig dat hy net 24 uur het om te lewe en ons moet al sy dinge in orde kry en voorberei op die ergste. Op daardie tydstip was geen onkoloog beskikbaar om Diego behoorlik te ondersoek nie,” vertel Kiepie.

Die nuus was natuurlik nie maklik vir die paartjie om te hoor nie. Volgens Dorothy was dit moeilik vir haar as ma om haar klein seuntjie in hierdie toestand te sien. Met gebede wat van ver en wyd vir Diego uitgegaan het, het ’n onkoloog van die Vrystaat beskikbaar geraak om die 16 uur lange operasie op Diego te doen om die gewas te verwyder.

Dit was nie lank daarna nie – op vierjarige ouderdom – toe die kanker teruggekeer het. Diego moes verskeie behandelings ondergaan en het die meeste van sy jong lewe in die hospitaal deurgebring.

Die Hendricks-paartjie moes hul lewe rondom als bestuur terwyl hulle nog ’n seun het. Volgens Dorothy sou hulle dit nie kon doen sonder die goeie ondersteuning van almal rondom hulle -finansieel of emosioneel, of deur gebed nie. Die gesin woon sedert 2015 in Saldanha en Diego moes jaarliks na II Militêre Hospitaal in Wynberg toe gaan vir skandering.

Hy is tans 17 jaar oud en ’n leerder by Karitas Spesiale Skool in Vredenburg. Sy kanker is nou ses jaar in remissie. Hy sê hoewel hy anders voel as ander kinders, is hy dankbaar en baie lief vir sy ouers en ouer broer. “Hulle is goed vir my,” sê hy.

Diego gaan vanjaar weer vir ’n skandering, maar sy ouers is positief dat alles goed sal uitwerk. Hulle vertel aan ander ouers wat deur dieselfde gaan, dat niks onmoontlik is met die Here nie. “Bly glo en vertrou, raak betrokke by Kansa en ondersteuningsgroepe,” sê hulle.

“Dit is sowaar die Here wat ons deurgedra en gebring het tot waar ons vandag is.

You need to be Logged In to leave a comment.