Terwyl die meeste Weskussers Braaidag saam met familie en vriende deurgebring het (meesal binnenshuis vanweë die koue weer) kon vier families nie feesvier nie – die families van vier mans wat nie die afgelope naweek uitgesien het nie vanweë afsonderlike misdadige optredes wat hul lewe geëis het.
’n Mens kan maar net raai oor wat die moorde voorafgegaan het; die rede waarom ’n man in die straat voor inwoners koelbloedig deur die kop geskiet is.
Maar dit is deesdae elke naweek se storie.
Bendeverwant? Dié wat weet, wil nie sê nie, en Weslander bespiegel nie oor feite wat ons nie het nie.
Dat die Weskus egter in ’n greep is van wat dui op voorvalle van bendegeweld, is duidelik wanneer gekyk word na die groot aantal moord- en poging-tot-moord-sake wat besig is om in die onderskeie polisiekantore se speurafdelings op te hoop.
Die feit bly staan – elke man wat doodgeskiet of doodgesteek word, is iemand se kind, het dalk iewers sy eie kind of kinders, of ’n meisie of vrou wat vergeefs op hom wag om huis toe te kom of vriende wat maande later steeds wag dat geregtigheid seëvier.
Met ’n polisiemag wat mank-mank sonder die nodige finansiering en bemanning ’n ongekende golf van geweld aan die Weskus moet hanteer, is dit nie snaaks dat dit eerder voel asof die situasie besig is om te eskaleer nie. Daarmee saam is dit skokkend dat ’n polisieman na bewering agter ’n gewapende rooftog sit waarin een man dood en een man ernstig gewond is en nou om sy lewe veg.
Die gemeenskap kan op minstens een manier help – géé die polisie inligting oor die misdade; moenie swyg nie.
Wie swyg, stem toe.