Die jaar 2025 is ‘n jaar van mylpale. Afrikaans vier sy 100ste amptelike bestaansjaar, terwyl vier van die taal se mees oorspronklike en geliefde kunstenaarseuns hul 50ste omwenteling om die son vier.
Die gevolg? ‘n Onvergeetlike vertoning genaamd Die Vyftigers is ‘n musikale viering van die lewe, taal, stories en tyd.
Neil Sandilands, Schalk Joubert, Gian Groen en Abel Kraamsaal – vier unieke stemme in die Afrikaanse musieklandskap – staan saam op die verhoog om hul liefde vir Afrikaans en hul eie halfeeu lange reis te vier.
Dit is ‘n eerlike, rou en reguit produksie vol liriek, lag, melodie en menswees. Dié viermanskap begin hul toer op Donderdag 10 Julie by Die Koelkamers in Paternoster.
Die ontstaan van Die Vyftigers as groep het tussen die appelboorde van Grabouw, by Groen se 50ste verjaarsdagpartytjie, begin. Tussen kitare, staalsnare en spontane samesyn het Sandilands die lig gesien – vier musikale vriende, almal besig om die 50-mylpaal te takseer, in dieselfde jaar wat Afrikaans 100 jaar oud word.
Elke kunstenaar bring sy eie storie, instrument en kleur na die verhoog en tussen hul vier loopbane is meer as 200 jaar se kreatiewe gravitas, en elke noot en elke sin deurdrenk met betekenis. Groen, bekend vir “Vier Seisoene Kind”, bring sy kenmerkende vingerkitaar-
styl en rou stem. Joubert, met dekades se invloed in die musiekbedryf, dien met sy baskitaar as musikale anker en ritmiese gom. Kraamsaal, terug ná jare in die korporatiewe wêreld en honger vir die verhoog, bied vars insigte en kragtige lirieke. Sandilands speel die hofnar en visuele impresario wat die produksie met humor, sinisme en teaterflair bind.
Die Vyftigers is nie net ‘n musiekvertoning nie – dit is ‘n viering. Aan die hand van liedjies uit elkeen se repertoire asook nuwe skeppings spesifiek vir hierdie produksie, neem die kunstenaars gehore op ‘n reis deur persoonlike stories, taalgeskiedenis en tydlose klanke.
Die vertoning is ten volle in Afrikaans – ‘n danksegging aan die taal wat dit alles moontlik maak.
Of jy nou ‘n aanhanger van Afrikaanse musiek of die kunstenaars self is, of eenvoudig op soek is na iets eg, diep en vermaaklik, moet jy nie hierdie vertoning misloop nie.
• Die vertoning begin om 19:00. Kaartjies kos tussen R230 en R322. Besoek www.diekoelkamers.com om te bespreek.