Wat gebeur met die persoon wat nie by ’n fisioterapeut kan uitkom nie?
Hetsy oor ’n tekort aan vervoer, oor die persoon te skaam is, of omdat dit party dae net te moeilik is om by die huis of die werk weg te kom.
Liesl Jooste glo sy het die antwoord: “’n Mobiele fisioterapeut.”
Sy kom na jou huis, en vir die volgende 30 tot 45 minute kry jy die behandeling wat jy nodig het “in jou tuiste en op jou gemak”.
“Toe ek in George gewerk het by ’n praktyk was daar gereeld ’n probleem met mense wat nie vervoer het om tot by die praktyk te kom nie,” vertel Jooste, wat in Januarie 2016 saam met haar man, Frankquit, na Saldanha verhuis het.
“Of mammas, wat met meer as een kind sit, sukkel om na jou toe te kom. Een vrou vertel dat ’n doktersafspraak tot drie uur uit haar dag kan neem.”
In Mei 2016, met dinge by hul nuwe woning uitgesorteer, besluit Jooste dis tyd om weer aan die werk te spring, en toe kom ’n ou pasiënt uit George met die voorstel: “Ry na die mense se huise toe.”
“Mense is meer op hul gemak by die huis, en jy ontmoet nie net die pasiënt nie, maar ook die gesin, wat net so belangrik in die rehabilitasieproses is.”
Jooste vertel hoe sy veral ook aftrek kry by ouetehuise, waar die bejaardes die “one-on-one-aandag” vreeslik waardeer.
En die uitdagings – fisioterapeute het tog toerusting waarmee hulle werk?
“Ek moes vir my ’n draagbare masseerbed aanskaf, maar dit pas sommer in die kattebak saam met die res van my toerusting in.”
Jooste is oorspronklik van Namibië en het eers net ’n gewone BSc-graad gaan studeer, maar het ná een jaar tou opgegooi, toe haar pa haar aan fisioterapie bekendstel.
“My pa was ’n onderwyser, en eendag by die skool kom hy op een van hierdie loopbaanboekies af. Toe kom vertel hy my van fisioterapie. Ek het by die Universiteit Wes-Kaapland (UWK) aansoek gedoen, en hier sit ek nou, 20 jaar later.”
Ná agt jaar wat sy vir die Namibiese staat gewerk het, is sy George toe, waar sy 11 jaar by ’n praktyk gewerk het, voor Frankquit, ’n pastoor, se werk hom na die Weskus gelei het.
Vir Jooste is die nuwigheid van na mense se huise gaan ook ’n genotvolle ervaring.
“Die belangrikste wat ek hieruit neem, is die band van vertroue wat ek en my pasiënte smee.”