Dié langasem draf almal kaf

Probeer as jy wil, maar jy sal nie maklik die langasem, Letesha Coetzee, op die baan vang nie.


Probeer as jy wil, maar jy sal nie maklik die langasem, Letesha Coetzee, op die baan vang nie.

Letesha (14) is ’n leerder van Langebaan Primêr en ’n plaaslike langafstandkampioen. Sy is danksy haar vele prestasies Weslander en Super Sport se Let’s Play-wenner vir Augustus.

Dié tiener is die baan- en veld-afdeling se Weskus- en Wes-Boland-kampioen in die 800 m en 1 500 m vir meisies (14 jaar).

Sy is ook vir die Boland-atletiekspan gekies.

Dit is egter nie net op die atletiekbaan waar Letesha uitblink nie, want sy kan die 10 km net so vinnig kafdraf. Sy was eerste in haar ouderdoms­groep in die Laguna Mall-wedloop en die PPC-wedloop in Riebeek-vallei waar sy die beste onder die junior vroue was. Letesha het ook dié landloop-seisoen uitgeblink. Sy is onlangs in die Weskus-landloopspan opgeneem, wat aan die Wes-Kaapse kampioenskap in Kaapstad sal deelneem. Sy was ook lid van die provinsiale span wat aan die SA landloop-kampioenskap deelgeneem het.

“Ons is baie opgewonde oor haar vordering die afgelope twee jaar. Ná harde werk en goeie kondisionering deur een van ons kondisioneringsafrigter, Clive Cupido pluk sy die vrugte daarvan.

“Sy is egter nog ver van haar beste. Indien sy aanhou hard werk gaan sy beslis groot hoogtes bereik,” meen Christopher Rodgers wat haar genomineer het.

You need to be Logged In to leave a comment.