Soos enige ma besorg is oor haar kinders, net so is Lanie du Toit besorg oor haar kattekinders.

Dié inwoner van Blouwaterbaai was “stukkend” toe haar twee katte, die susters Hasie en Bontie, ’n paar maande uitmekaar vermis geraak het. Vir Du Toit was die verdwyning van haar kattekinders vreemd, want haar katte loop nie gewoonlik van die huis af weg nie.

Hasie was sedert November 2021 vermis en ná vele navrae op dieregroepe en ’n groot gesoek moes Du Toit aanvaar dat Hasie weg is.

’n Paar maande later, in Junie vanjaar, het Bontie een oggend soos gewoonlik saam met Du Toit ’n leksel pap geniet. Toe sy egter na werk terug by die huis kom, was Bontie nêrens te siene nie.

Du Toit en haar man het weer op ’n soektog gegaan, maar met geen sukses nie. Sy moes weer die hartseer realiteit aanvaar dat haar tweede katkind ook weg is.

Dit blyk egter die katte het nog vele lewens oorgehad, want op Jeugdag (Donderdag 16 Junie) het Du Toit ’n gemiaau buite haar woning gehoor. Sy sê sy het aanvanklik gedink dit was slegs haar verbeelding, maar het besluit om ondersoek in te stel. “Ek het die gemiaau gevolg en na die agterkant van ons huis beweeg. Dit het al hoe duideliker begin klink. Ek het geroep en Bontie het geantwoord,” vertel du Toit.

Dis toe Du Toit besef die geluid kom van die huis agter hulle se motorhuis.

“Ek het nie geweet die huis is leeg nie, maar nadat my man omgery het, het die alarm afgegaan en vyf minute later het die eienaar daar aangekom. Hy het die motorhuis oopgesluit en daar was Bontie. Ons was baie dankbaar.”

Volgens Du Toit was Bontie fris en gesond en hulle vermoed sy het muise gevreet en die water in die motorhuis gedrink.

Dit het haar aan die lewe gehou.

Min het Du Toit geweet Hasie het al in November verlede jaar by haar buurman beland, maar sy was nie so gelukkig soos Bontie nie en het vir ’n hele ruk sonder water en kos oorleef.

So het alles in plek begin val en Du Toit het die goeie nuus ontvang dat Hasie in die pleegsorg van Essie Els, ’n vrywilliger van LAC, is wat haar versorg het. Toe Du Toit die goeie nuus kry dat sy Hasie kon gaan haal, was sy baie gelukkig. Du Toit en haar katkinders is Donderdag 16 Junie herenig.Du Toit is ewig dankbaar en bedank almal wat so mooi na haar katte omgesien en gehelp het om hulle te herenig.

“Dit is sowaar ’n ‘die kat kom weer’-storie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 27 November 2025
    Weslander E-Edition – 27 November 2025

Gift this article