WELLINGTON – Die Sanlam-Boland Kavaliers het hul terugkeer na die Curriebeker se Premierafdeling die afgelope Sondag (28 Julie) op die mees opwindende wyse gevier – met ’n 37-35-oorwinning teen die Toyota Cheetahs in Wellington. Dit is hul eerste verskyning op beker-vlak sedert 2016 en hul prestasie is veel meer as net ’n sportoorwinning – dis ’n gemeenskapsoomblik van trots en vasberadenheid.
Met die skare op hul voete by Boland-stadion in Wellington het Boland sy stempel vinnig afgedruk. James Tedder het twee vroeë strafdoele oorgeklits en Ashlon Davids het die eerste drie van die wedstryd aangeteken. Selfs toe die Cheetahs teenstand bied en kort voor rustyd die voortou neem, het Boland se veggees die weg gebaan vir David Brits en Davids se tweede drie, wat die Kavaliers teen rustyd 27-14 laat voorloop het.
Die tweede helfte was ‘n intense stryd tussen die twee spanne, met die Cheetahs wat die aanvoerwerk gedoen het. Die Cheetahs het met hul reserwekrag druk op die Kavas voorlangs geplaas, en ná drieë deur Carel-Jan Coetzee, Gideon Van der Merwe en Vernon Paulo, het die Kavaliers ’n 35-27-voorsprong gehad – met slegs vyf minute op die stophorlosie oor.
Die Kavas het geweier om te gaan lê en het aanhou vorentoe speel totdat Marcqiewn Titus die vonk van hoop in die 79ste minuut laat ontvlam met ’n pragtige afronding in die regterkantse hoek.
Ongelukkig was die doelskop mis, met net een minuut gewone speeltyd oor. Toe die Cheetahs inskop, het hulle nie geweet dat Boland hulle tot diep in beseringstyd gaan uittart nie. Juan Mostert het ’n presiese kruis-skoppie na Xavier Mitchell uitgevoer, wat Donovan Don aan die buitekant gevind het. Don het in die hoek oorgeduik vir die wendrie, en die Boland-stadion het met vreugde ontplof.
Die Kavaliers het nie net die wenpunte behaal nie, maar met hierdie oorwinning het hulle hul tande gewys en gewys hulle gaan hul als in vanjaar se Curriebeker-reeks gee.
Puntemkers – Sanlam- Boland Kavaliers 37 (27): Drieë: Ashlon Davids (2), David Brits, Marcqiewn Titus en Donovan Don. Doelskoppe: James Tedder (3). Strafdoele: Tedder (2).
Toyota Cheetahs 35 (14): Drieë: Marko Janse van Rensburg, Rewan Kruger, Carel-Jan Coetzee, Gideon van der Merwe en Vernon Paulo. Doelskoppe: Cohen Jasper (2), Ntokozo Makhaza (3)


