Paasfees vorm die kern van die Christelike geloof, wat Jesus se oorwinning oor sonde en die dood simboliseer. Paasfees is ‘n seldsame geleentheid om te stop, asem te haal en te herbedink. Dit is nie net ‘n herdenking van die verlede nie, maar ‘n uitnodiging om ons eie siklusse van dood en wedergeboorte te omhels – die ou patrone wat moet sterf sodat nuwe groei kan begin.
Ons innerlike wêreld vra vir vernuwing en hergeboorte. Soos bome hul dooie
takke afskud en die aarde die ou seisoen laat gaan, kan ons agterlaat wat ons nie meer dien nie. Dis tyd om ou wonde te eer en plek te maak vir nuwe groei. ‘n Innerlike reis van selfsorg en vergifnis, aanvaarding en bevryding kan die begin wees van ‘n nuwe tydperk in jou lewe. Gewoontes wat jou dan geestelik en emosioneel versorg, lei jou na transformasie en hergeboorte.
Paasfees gaan gewoonlik gepaard met kinders wat jillend en opgewonde eiers soek; elke ontdekking ‘n oorwinning. Maar dalk is hierdie soektog ‘n dieper metafoor – nie net vir vreugde nie, maar vir genesing. As ons met ‘n oop hart in onsself gaan soek, kan ons soos kinders klein oorwinnings vier vir elke seer wat genees. Soek die weggesteekte wonde, dit wat ons eerder wil vergeet, eien dit en verstaan waar dit vandaan kom. Sodoende kan Paasfees ‘n deurlopende werklikheid word, waar God daagliks in die stilte van ons gedagtes verkeer en die oop ruimtes van ons seer vul met hoop en dit waarvoor Hy Sy seun eintlik gestuur het.
Paasfees kan ook die pad na mekaar weer begaanbaar maak. God se Liefdesdaad, wat grense oorskry, was nie genoeg om te verhoed dat ons uitmekaar uit dryf nie. Verhoudings kan sterf in woorde wat nooit gesê is nie. Trots en ego wat paaie verspoel, maak herstel uitdagend. Dis die vasberadenes onder ons wat die pad bou – ‘n pad wat nooit vernietig sal word nie. Waar sweet en trane meng om grond te bind en waar hande eelte kry, is die plek waar ek graag wil wees.
Jesus het die pyn van verwerping geken en tog was Sy opstanding ‘n teken dat die einde nooit werklik die einde is nie. Wanneer verhoudings skipbreuk ly, misverstande harte uitmekaarskeur, jare se stiltes beleef word en families nie meer met mekaar praat nie, jy jou medemens as kompetisie sien, jy altyd moet wen, nie glo aan ‘n saak wat twee kante het nie, glo dat liefde verdien moet word … dán is Paasfees ‘n deur wat vir jou oopgaan. As God Sy kind teruggegee het aan ‘n wêreld wat Hom verwerp het, dan kan ons mekaar ook mos “teruggee” – teruggee deur vergifnis, ‘n telefoonoproep, ‘n boodskap of ‘n uitgestrekte hand. Paasfees gaan nie net oor ‘n leë graf en verlies nie, maar oor die moontlikheid dat liefde sterker as afstand is, dat ons die klip van trots eiehandig kan wegrol en lewende, werklike liefde gee. Liefde se waarde verdubbel wanneer jy snags huilend wakker word en warm arms jou toevou.
Liefde is onsigbaar, maar dit beweeg deur alles – soos lig deur ‘n venster. Liefde is nie beperk tot tyd of is nie onderworpe aan reëls nie. Paasfees is ‘n herinnering aan hierdie onsienlike krag. Jesus se dood en opstanding is ‘n bewys dat liefde nie vernietig kan word nie.
Seer is ‘n ewige metgesel en ook erfgenaam.
Voor die vreugde van die oop graf was daar ‘n kruis. Jesus se lyding was nie net fisiek nie – dit was ook emosioneel: Verraad deur ‘n vriend, verwerping deur sy mense en dan ‘n roep na die Vader wat vir ‘n oomblik onbeantwoord gevoel het.
Is dit nie maar die seer wat ons dra nie? Roep ons ook nie maar soms en dan antwoord niemand nie? Soms voel ons dat ons gee, maar steeds verloor. Die krag van Paasfees lê hierin: Jy is nooit alleen in jou pyn nie; jou trane word gesien. Jy is genoeg, jy is waardig, jy word gehoor en jy maak saak. Seer is deel van die reis na genesing. Jou kruistog was nie verniet nie.
Genesing gebeur nie oornag nie; dit word nie in ‘n oomblik gevind nie – dis eerder ‘n langsame, moeisame reis. Dis wonde wat stadig toemaak en genees; hartseer wat met tyd en verdraagsaamheid ligter raak. Selfs Jesus het drie dae in die donker deurgebring voordat die steen gebreek het.
Genesing is nie ‘n bewys van pyn nie – dit is ‘n bewys dat pyn nie die finale woord het nie. Littetekens sal ons hê, maar dit is nie ons identiteit nie. Die oop graf is ook ‘n teken van genesing – ‘n bewys dat liefde die diepste wonde kan transformeer.
Dit – meer as enigiets anders – is die belofte van Paasfees.


