Diazville se atlete baas op langpad

Diazville Primêr se landloopspan het die afgelope week geskiedenis vir die skool gemaak toe 11 leerders vir die WP-landloopspan gekies is.


Diazville Primêr se landloopspan het die afgelope week geskiedenis vir die skool gemaak toe 11 leerders vir die WP-landloopspan gekies is.

Volgens Chantell Bester, wat die administratiewe sake behartig, het die skool een van sy beste seisoene nóg gehad.

Die 11 langasems het vir minstens vyf van hul ses ligawedlope onder die toptien geëindig. Hulle het verlede maand aan die Wes-Kaapse Landloop­kam­pioenskap deelgeneem wat by die Hoërskool Hottentots-Holland in die Strand plaasgevind het.

Drie van die atlete, Miquael Cloete (o.9), Elmira Doysen (o.9) en Luciano Amams (o.12), het behoorlik in die kompetisie uitgeblink en podiumplekke gekry. Danksy hul eerste plekke is Elmira en Luciano nou Wes-Kaap- kampioene in hul onderskeie ouderdomsgroepe. Miquael het die bronsmedalje verower.

Die landloopspan is: Ashraf Whites (o.9), Jayden Cloete (o.11), Kallecia de Bruin (o.9), Romeo Adams (o.10), Rimark Esau (o.12), Liam Williams (o.11), Giuhano Cloete (o.11) en Crystal Adams (o.9).

Daar is beslis iets in Diazville se water, want vier van die atlete is sibbe – twee broers en ’n broer en suster.

Elmira, Miquael en Luciano sal nou volgende naweek aan die interprovinsiale spele in Riversdal deelneem.

You need to be Logged In to leave a comment.