Joshlin Smith word 8 in absentia. Foto: Diazville Primêr
Joshlin Smith word 8 in absentia. Foto: Diazville Primêr

Diazville Primêr in Saldanha het besluit om die vermiste Joshlin Smith se verjaardag Donderdag 23 Oktober te vier omdat sy nog steeds deel van die skoolfamilie is.

Joshlin was ses jaar oud toe sy in Februarie 2024 as vermis by die Saldanha-polisiekantoor aangemeld is. Sedertdien kon nie ‘n stukkie DNA of enige leidraad die polisie – plaaslik en provinsiaal – op haar spoor sit nie.

Die personeel van Diazville Primêr voor die skool. Foto: Diazville Primêr.
Die personeel van Diazville Primêr voor die skool. Foto: Diazville Primêr.

Hoewel haar ma, Kelly Smith, en twee ander, Boeta Appolis en Steveno van Rhyn, vroeër vanjaar skuldig bevind aan mensehandel en ontvoering, is dit ‘n skrale troos vir ‘n gemeenskap wat nog steeds treur.

Die skoolhoof Lee-Ann Davids-Hartzenberg het tydens die byeenkoms saam met leerders, personeel en van Joshlin se familie vir haar veilige terugkeer gebid. Haar grootmaakouers, Natasha en Lionel Andrews en haar oumagrootjie Rachel Smith het ook die herdenking bygewoon.

Davids-Hartzenberg het ‘n boodskap van hoop en liefde gedeel terwyl onderhoof Marius Cleophas Joshlin vereer het deur ‘n liedjie wat hy self geskryf het. Joshlin se gunstelingliedjie, “God will work it out”, is ook vir die aanwesiges gespeel.

Volgens Davids-Hartzenberg het die skool besluit om Joshlin se verjaardag te herdenk – sy is nou agt jaar oud – omdat sy “steeds deel is van die Diazville Primêr-familie”. Deur haar verjaardag te herdenk, wou die skool wys dat sy nie vergete is nie, en dat die gemeenskap steeds haar familie ondersteun en vashou aan hoop.”

Edna Maart, Joshlin se onderwyser vir die enigste maand wat sy 'n graadeentjie kon wees, probeer 'n kers ter ere van Joshlin aansteek. Foto: Diazville Primêr
Edna Maart, Joshlin se onderwyser vir die enigste maand wat sy ‘n graadeentjie kon wees, probeer ‘n kers ter ere van Joshlin aansteek. Foto: Diazville Primêr

Hulle het ook ‘n boom van herinnering geplant, maar die Weskuswind wou egter nie met die opsteek van kerse saamspeel nie.

Davids-Hartzenberg het dit beskryf as ‘n dag van liefde, eenheid en geloof – die waardes wat die skool daagliks uitleef. Sy meen die atmosfeer op die dag van die herdenking was emosioneel, maar ook vol warmte en hoop.
“Leerders, personeel en besoekers het saamgestaan in ’n stille eerbetoon aan Joshlin. Party leerders én opvoeders het trane gestort, terwyl ander eenvoudig tydens die kort byeenkoms saamgesing het. Vandag, meer as ‘n jaar later, is die gemoedere by die skool nog steeds sag en vol verlange. Die personeel en leerders praat nog gereeld van haar, veral dié wat haar goed geken het.”

Die pragtige skildery van Joshlin is aan die skool geskenk deur die skilder Donovan Julius.

Die herinneringsbord by die skool se ingang met briefies van die leerders aan Joshlin én haar foto op die skool se briefhoof dien as daaglikse herinnering dat sy vir altyd deel van die Diazville Primêr-familie gaan wees.

Veels geluk, Liewe Joshlin.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 November 2025
    Weslander E-Edition – 13 November 2025