Die Diaz Leeds-sokkerklub in Diazville, Saldanha, is die eerste sokkerspan van die Weskus wat na die gesogte Safa ABC Motsepe-liga se Wes-Kaapse uitspeelronde deurgedring het.
Die ABC Motsepe-liga is die huidige tweede afdeling en algeheel derde vlak van Suid-Afrikaanse sokker. Die kompetisie behels 144 spanne, verdeel in nege afdelings volgens die nege provinsies van Suid-Afrika.
Elke provinsiale afdeling bestaan uit 16 spanne, waarvan die wenspan van die provinsie vir die nasionale uitspeelwedstryde kwalifiseer, wat vir die wenners bevordering na die nasionale eerste liga beteken.
Die Wes-Kaapse spanne is in twee strome verdeel en Diaz Leeds speel in Stroom A teen spanne soos Cape Town Spurs, Young Bafana, Hout Bay United en City Kings.
Volgens Gerald Cleophas, die Diaz Leeds-klub se uitvoerende hoof, is hulle die eerste span van die Weskus wat na dié top-sokkerliga se provinsiale uitspeelwedstryde deurdring. “Dié prestasie is die begin van ’n nuwe era vir sokker in die streek, en sportliefhebbers kan uitsien na ’n verhoogde vlak van kompetisie,” meen Cleophas.
Volgens hom is dié mylpaal die vervulling van ’n lewenslange droom – van droom tot werklikheid. “Ek het as jong speler gedroom om vir die jeug van ons gemeenskap ’n pad vorentoe te skep.”
Cleophas benadruk die vordering is die gevolg van jare se harde werk en toewyding.
Sy visie vir die klub het nooit net oor sokker gegaan nie, maar ook oor die ontwikkeling van geleenthede vir jongmense in die gemeenskap.
“Diaz Leeds se opgang in die ABC Motsepe-liga lui ’n nuwe era vir Weskus-sokker in en is ’n bewys van hul veerkragtigheid en gehalte. Hierdie liga is ’n treetjie weg van die nasionale eerste liga en uiteindelik die premier-sokkerliga (PSL).
“Die Diaz Leeds-sokkerklub sal dus binnekort teen die voorste spanne in die Wes-Kaap meeding en die gemeenskap kan uitsien na opwindende wedstryde met sokker van hoogstaande gehalte.”
Cleophas, ook ’n raadslid by die Saldanhabaai-munisipaliteit, hoop dat die klub se sukses sal help om sporttoerisme in die streek te bevorder.
“Saldanha en die Weskus kan nou ’n groter rolspeler in Wes-Kaapse sokkerkringe word, wat sekerlik besoekers van oor die provinsie heen sal lok.”
Die prestasie bied egter uitdagings en die Diaz Leeds-sokkerklub vra daarom dringend ondersteuning van die plaaslike regering en sakelui om hul status in die liga te behou en te versterk. Net om te vorder tot kampioen van die Weskus-streek het aansienlike finansiële belegging geverg.
Om verder in die kompetisie te vorder, gaan nog baie meer belegging verg.
Cleophas doen daarom ’n beroep op die gemeenskap om spanlede die geleentheid te help bied om dié geskiedkundige geleentheid te kan bywoon en aan ’n blink toekoms vir sokker in die Weskus te bou.
Diaz Leeds se optog na glorie begin op Saterdag 12 Oktober teen die hoogaangeskrewe Zizwe United-sokkerklub van Kaapstad in die Nedbank-stadion.
Bel Cleophas by 081 838 3831 met navrae.