’n Vermeende diamantsmokkelaar het in die Klawer-landdroshof verskyn nadat die polisie 16 ongeslypte diamante en ’n diamant-opsporingstoestel by hom gekry het.
Peter Abrahams (62), oorspronklik van Vanrhynsdorp, is Donderdagoggend 31 Oktober om 01:45 in hegtenis geneem nadat die diamante en toestel gekry is en hy geen verduideliking daarvoor kon gee nie.
Kapt. Tania Helfrich, ’n Weskus-polisiewoordvoerder, sê die polisie het die diamante gekry nadat hulle ’n lasbrief verkry het om ’n huis in Justinustraat, Klawer, te deursoek.
Die diamante en toestel was onder ’n matras weggesteek.
Die polisie kan nog nie bekend maak hoeveel dit weeg en hoeveel karaat dit was nie.
Abrahams het Vrydag 1 November op aanklagte van onwettig smokkel met diamante in die hof verskyn.