Die wenresep vir top-ondernemings is nie so eenvoudig soos sommige wil voorgee nie. Pietie Visser en die span by S&H Scales weet egter wat vir hulle werk – produksie van hoë gehalte en goeie kliëntediens.
S&H Scales vier vanjaar sy 30ste bestaansjaar.
Visser en sy vrou, Louise, het drie dekades gelede die onderneming in Hoofstraat, Vredenburg, begin – met 13 jaar ondervinding agter die rug wat hy by SA Scale Co. opgedoen het by wie hy as vakleerling begin werk het, net ná sy nasionale diensplig destyds toe hulle nog in Saldanha gevestig was.
Scales & Hydraulics is toe begin as ’n verskaffer van weegtoerusting en het ook hidrouliese toerusting versien. Die hidrouliese afdeling is later verkoop om hoofsaaklik net op die skaalbedryf te fokus en danksy die span is die onderneming steeds een van die top-skaalvervaardigers.
S&H Scales is ’n Sanas-geakkrediteerde laboratorium (LTF0206) wat werksaam is onder die Handelsmetrologiewet en verifikasies en sertifisering uitvoer namens NRCS (National Regulator for Compulsory Specifications) op alle weegtoerusting. Die laboratorium is toegerus met ’n weegbrugtoetseenheid om weegbrûe tot ’n kapasiteit van 100 ton te verifieer en sertifiseer.
S&H Scales verskaf ook plaaslik vervaardigde NRCS-goedgekeurde weegtoerusting vir nywerhede om vir handelsdoeleindes gebruik te kan word.
Teen November 2012 moes Visser egter ’n groter perseel kry en is nou in die dorp se nywerheidsgebied geleë.
Hy is nederig oor sy sukses, maar sê met trots baie van S&H Scales se kliënte het hulle van die begin af ondersteun. “In die begin was ons kliënte oorwegend die visfabrieke. Vandag verskaf ons steeds aan baie van die eerste ondernemings en het niemand verloor nie,” sê Visser.
S&H Scales se verskeidenheid SABS/NRCS-goedgekeurde produkte en diens word wyd en syd versprei. Diens word tot in Sishen in die Noord-Kaap en Port Elizabeth in die Oos-Kaap gelewer.
Visser sê hy dink nie eers aan uittree nie, maar as dit ooit sou gebeur, is daar beslis genoeg opgeleide personeel om die onderneming aan die gang te hou.
Die missie en visie van die onderneming is om die plaaslike gemeenskap te help bemagtig. Deur werksgeleenthede en opleiding aan mense te bied, word die onderneming se kernwaardes uitgedra.
As deel van die verjaardagviering wil die S&H Scales-span ’n groot dankie aan hul getroue kliënte oordra. Die span sien uit na nog vele verjaardae en gelukkige kliënte. Nuwe kliënte kan die kantoor by 022 719 2383/ 2269 skakel.