Derde familielid vas vir verkragting van jong kinders

’n Derde familielid is in hegtenis geneem in verband met die verkragting en seksuele aanranding van ’n gesin van Vredenburg se jong kinders.


’n Derde familielid is in hegtenis geneem in verband met die verkragting en seksuele aanranding van ’n gesin van Vredenburg se jong kinders.

Die Vredenburg-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS) het die 53-jarige man ná ’n grootskaalse soektog in hegtenis geneem.

Hy verskyn weer vandag (21 November) in die landdroshof op aanklag van verkragting.

Die kinders se ouers staan tereg op aanklagte van kindermishandeling wat spruit uit hul versuim om die verkragting en seksuele aanranding van hul kinders by die polisie aan te gee. Hulle het weer Vrydag 15 November vlugtig in die landdroshof verskyn.

Die man, wat intussen by sy werk in Vredenburg bedank het, het verbande om sy een enkel gehad.

Die egpaar word deur die kinders se ouma ondersteun.

Borgtog van R1 000 elk is Vrydag 13 September aan die middeljarige man en sy vrou, wat Donderdag 29 Augustus in hegtenis geneem is, toegestaan.

Die hof het streng voorwaardes aan die borgtog gekoppel. Die egpaar mag byvoorbeeld glad nie in Vredenburg kom nie, behalwe om in die hof te verskyn.

Volgens die klagstaat was die kinders almal jonger as 15 jaar oud ten tyde van die oortredings. Hulle is aangerand, verkrag en seksueel aangerand met die medewete van hul ouers. Die staat voer aan dat die pa die kinders verder met sy vuiste, ’n hokkiestok en sy swaarpunt­veiligheidstewels aangerand en hulle aan die hare getrek het.

Die ma het hulle glo met ’n gordel, ’n besem of die swaarpunt-veiligheidstewels geslaan. Sy het hulle ook per geleentheid glo gewurg.

Die GKS verwag om binnekort nog verdagtes in die saak aan te keer.

Die kinders word in ’n plek van veiligheid versorg.

You need to be Logged In to leave a comment.