Nou die dag lees ek wat ’n vriendin op Facebook skryf: “ . . . daar moet ’n wet wees teen opstaan in die weer . . .” En dié laat my dink dat ’n eenvoudige frase tog so baie krag dra.
’n Vinnige lewenstyl, uitdagende beroep, om ’n huishouding te laat vlot en vele ander eise kan mens se siel dreineer en moeg los, sonder lewenslus. Meestal is hierdie simptome deel van die normale lewe, maar dit kan op die lange duur tekens van ’n onderliggende siekte wees. Een waaroor mens nie sommer praat nie, en dus onbehandel laat. Die siekte raak meer mense as wat mens sou besef. Sy naam is: Depressie.
Depressie is ’n multi-faktorale siekte, en het verskeie paaie wat tot die ontwikkeling daarvan lei, nog meer simptome, en kan onbehandel verskeie gevolge hê. Meer vroue word aangetas as mans, en algeheel word sowat 6% van alle mense daardeur aangetas. Alhoewel dit meestal volwassenes is wat deur die siekte geraak word, kan dit wel by kinders ook voorkom.
Verskeie simptome loop diagnose van die siekte vooruit en behels die afwesigheid van genot met gewone take en ’n gevoel van hopeloosheid en sonder nut wees. ’n Pasiënt wat ’n verandering in eetgewoontes, slaappatroon, gewig, libido, konsentrasie en lewenslus toon kan voldoen aan die kriteria vir die siekte. Depressie kan skuil agter verskeie maskers, insluitend kroniese hoofpyn, angstigheid, besluitloosheid, kroniese moegheid, gastro-intestinale simptome en vele meer. Veral met die herkenning van depressie by kinders is kennis van hierdie maskers belangrik.
Die finale diagnose word gemaak volgens die DSM-IV (gewysigde DSM-V), na ander oorsake van ’n mediese aard uitgeskakel is. Hierdie kan wees onderaktiewe skildklier, slaap apnee, verlaagde yster-vlakke, suikersiekte en vele meer.
Behandeling is daarop gerig om die natuurlike goedvoelhormoon te vermeerder siende dat depressie te wyte is aan ’n tekort van hierdie hormoon. Dit word teweeg gebring met medikasie, maar kan ook die hulp van ’n sielkundige insluit. Hierdie is veral ter sprake sou daar ’n duidelike oorsprong van die siekte wees, bv. ’n traumatiese ervaring. Dit is belangrik om te verstaan dat hierdie siekte behandelbaar is, maar dat behandeling ’n rukkie vat voor dit effektief is, en die behandeling ook vir ’n aantal maande gebruik moet word voor dit geleidelik afgeskaal kan word. ’n Pasiënt raak nie verslaaf aan anti-depressante nie, en dit is dus veilig om te gebruik.