Denmar Jacobs, ’n graad 12-leerder aan die Hoërskool Hopefield, het groot drome vir sy toekoms.

Dié kranige atleet het onlangs aan die Atletiek Noord-Gauteng-byeenkoms deelgeneem en ’n rekordtyd van 13,50 sekondes in die 110 m-hekkies behaal.

Denmar sê hy is baie bly en trots op hierdie prestasie en dat hy sy doelwit om te kwalifiseer, behaal het.

“Ek het deur die seisoen kwalifiserende tye gehardloop, maar omdat ek derde by Atletiek SA se kampioenskap was, moes ek beter tye as die ander twee atlete aanteken. Ek het danksy my tyd van 13,50 sekondes die WP-rekord, wat 13,51 sekondes was, verbeter en die SA rekord, wat op 13,49 sekondes staan, net-net gemis,” vertel Denmar.

Sy liefde vir atletiek het op sesjarige ouderdom begin. Hy neem tans aan die 100 m-wedloop en 110 m-hekkies deel en het tot 2019 aan hoogspring deelgeneem.

Ander prestasies in sy atletiekloopbaan behels ’n derde plek in die 2019- Boland-kampioenskap. Net twee weke daarna het hy egter die Wes-Kaapse kampioen geword.

“Dieselfde jaar het ek in die derde plek in die SA Skole-kampioenskap geëindig.”

Denmar is ook die WP-kampioen en -rekordhouer en het die derde plek in die SA kampioenskap behaal. “Tans is ek nommer een in SA en vierde ter wêreld vir mans o.21 in die 110 m-hekkies-item.”

Wanneer dit by sy oefenprogram en dieetplan kom, vertel Denmar hy het baie navorsing gedoen oor oefenprogramme wat hom sal pas, “maar ek en my pa is besig met onderhandelings vir professionele bystand”.

Alhoewel hy in die seunskoshuis bly en sy etes gegrond is op professionele advies spesifiek vir hom, bederf sy ouers hom darem met ’n lekker burger en tjips ná elke atletiekbyeenkoms.

Denmar se drome vir die toekoms is om onder meer junior wêreldkampioen te word, teen 2023 ’n professionele atleet en een van die beste atlete ter wêreld te word.

Denmar wil graag al sy ondersteuners bedank vir hul ondersteuning, veral die Hopefield-hoërskoolgemeenskap, die Hopefield-landbou-unie en die Hopefield-sportklub.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 November 2025
    Weslander E-Edition – 13 November 2025