Dis Erfenismaand in Suid Afrika. Dis asof ek effens meer opgewonde is om vanjaar Erfenisdag te vier.
As Suid-Afrikaners is ons versot op ons sport, gekombineer met ’n braai en gesellige vriende om die prentjie mooi af te rond.
Aan die sportfront het ons juis so baie om vanjaar te vier. Dink nou maar aan die Olimpiese en Paralimpiese Spele waar ons ’n klompie medaljes ingeoes het. Sjoe, dit het darem ons harte van trots laat bons. Ons manne en vroue in groen en goud het dit vir ons land gedoen; vir almal van ons.
Voeg hierby ons goue seun Dricus wat sy titel as die wêreld se middelgewigbokskampioen behou het, en om nie eens te praat van ons kaptein, Siya, en sy gedugte Bokspan nie. Wat ’n fees om te kon sien hoe ons Bokspan daai Vryheidsbeker huis toe gebring het!
Elke oorwinning aan die sportfront het elke keer net daardie nasietrots ingeboesem.
Ons is inderdaad ’n wennasie. Ons vier vanjaar dertig jaar as ’n demokrasie – wat ’n mylpaal. Ons kan almal saamstem dat soveel in hierdie dertig jaar gebeur het. Die meeste van die dinge wat veral op politieke vlak gebeur het, het gedreig om ons as ’n nasie te verdeel. Wel, dit het nie gebeur nie, want as Suid Afrikaners het ons telkens bewys dat ons sterker en beter is as ons as ’n geheel saamstaan. Daar was oor die afgelope dertig jaar talle kere ’n gebeurtenis wat ons bo ons omstandighede laat uitstyg het. Hierdie gebeurtenisse het in die meeste gevalle, dink ek, met sport verband gehou.
Elke keer as dit vir ons voel asof ons in ’n dal van doodskaduwee wil val, was daar die een of ander sportverwante gebeurtenis wat ons herinner het wie ons as ’n nasie is. As ons daai beker of trofee oplig, het ons trots gevoel.
Oor die afgelope dertig jaar het dit ons kollektiewe psige positief beïnvloed. Op ’n makro-vlak het dit ons opnuut laat besef dat ons inderdaad die reënboognasie van tata Madiba kan en sal wees – as ons saamstaan.
Dit wat ons veral op die sportveld kon vermag, herinner ons daaraan dat selfs die politieke magte wat dreig om ons te verdeel, dit nie sal regkry nie. Dit het ons bewys toe ons ’n paar maande gelede na die stembus gegaan het om die politieke leiers te wys wie eintlik aan bewind is – die mense van Suid Afrika.
Kom ons hou hulle wat ons ’n paar maande gelede die voorreg gebied het om ons mense te dien, verantwoordelik en verantwoordbaar om hul taak met kundigheid en integriteit uit te voer, want onthou . . . ons hou julle dop.
Ons is gatvol van magsvergrype. Ons is gatvol vir korrupsie, politieke arrogansie en om, soos in die verlede, ons kosbare stemme vir ’n politieke party in ruil vir leë beloftes en ’n T-hemp te gee. Ons is niemand se speelbal nie. Ons is die kinders van Madiba. Ons sal met alles in ons vermoë veg om die droom van ’n reënboognasie te verwesenlik. Ja, daar is nog baie werk wat vir ons voorlê, maar ons is bereid om die road less travelled verder te loop. Wat ons die moed, uithouvermoë en motivering gee vir hierdie edele taak, is ons kinders . . . die leiers van môre. Ons is dit aan hulle verskuldig.
Daar is genoeg bewyse dat ons sterker en beter is as ons saamstaan en ons glo dat ons politieke leiers hiervan kennis neem. As ons dit aan die sportfront kan regkry, dan kan en moet ons dit ook op ander terreine vermag.
Ons wil die sportfakkel, as deel van ons kultuurgoedere in Suid Afrika, ook aan ons politieke leiers oordra en oorgee – om ons trots te maak en om daadwerklik om te sien na die miljoene Suid Afrikaners wat julle vertrou om ons te lei.
Waak egter daarteen dat die leiding nie geleidelik oorspoel na lyding, soos wat telkens in die verlede gebeur het nie. Asseblief, ons het genoeg skaam gekry vir jul swak leierskap.
Ná dertig volle jare as ’n demokrasie wil ons darem vir ’n slaggie trots voel op ons politieke leiers, soos wat ons trots voel op ons Springbokke en enige ander groep of individu in ons mooi land wat ons almal trots maak.
Met die mate van vordering wat ons al gemaak het om as demokrasie staande te bly, is dit my hoop om vanjaar ietsie van die reënboognasie op daai verhoog, waar die viering van Erfenisdag gehou word, te sien. Voorheen was dit net sekere groepe en individue wat die diverse kultuur- en etniese landskap van Suid Afrika op dié verhoog tentoongestel het.
Mag ons hierdie Erfenismaand dit met oorgawe waag om al die kinders van Madiba die geleentheid te bied om op die reënboognasie-verhoog te verskyn – die Xhosa, Zulu, Khoisan, Afrikaner, Sotho, Indiër, Tswana, Ndebele, Pedi, Moslem en Hindoe. Ons almal is deel van ons mooi land se erfenis, identiteit en kultuur.