Deernissubsidie gestop ná ondersoek

’n Hoë rekening van R5 832,60 vir krag, water en riool van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) het as ’n groot skok gekom vir William Ox, ’n inwoner van Hopefield.


’n Hoë rekening van R5 832,60 vir krag, water en riool van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) het as ’n groot skok gekom vir William Ox, ’n inwoner van Hopefield.

Volgens Ox het hy aansoek gedoen om ’n deernissubsidie wat eers goedgekeur, maar weer afgekeur is. Ox het aan Weslander vertel dat hy in 2019 uit die onderwys getree het en aansoek gedoen het om ’n deernissubsidie juis omdat die tariewe so hoog is. Hy voer ook aan dat altesaam R734,87 BTW boonop by die rekening gevoeg is.

“Ek is ’n pensioenaris en werk nie meer nie. Wie kan die buitensporige tariewe betaal? Daarom het ek aansoek gedoen vir die subsidie. My vraag is met hoeveel mense is dit nie al gedoen nie? Die betrokke mense bly maar stil en doen niks aan die saak nie. My lewe lank betaal ek gereeld my munisipale rekening. Die rekening is toe betaal met die hulp van my kinders.”

Volgens Ox is die SBM-aansoekvorm oorgetik en nie die oorspronklike vorm wat hy met die hand voor ’n amptenaar ingevul het nie. “Die vorm is nie eens deur my onderteken en gedateer nie. Hoe kan dit eerbaar of oorspronklik wees?

In reaksie op ’n navraag van Weslander aan die SBM sê Tereza Burger, ’n munisipale woordvoerder, daar is op die aansoek vir deernissubsidie deur Ox aangedui dat hy geen inkomste ontvang nie.

“Die aansoek is aanvanklik goedgekeur en by verdere ondersoek is ander inligting verkry. Die verifikasie [wat] gedoen [is] op meneer Ox se identiteitsnommer toon aan dat hy ’n werknemer van die departement van onderwys was. Op grond hiervan is die deernissubsidie gestaak en is hy versoek om die nodige dokumentasie by die munisipaliteit in te dien om dienooreenkomstig sy aansoek te heroorweeg,” voeg Burger by.

Burger sê die raad se beleid insake deernissubsidies maak voorsiening vir die volgende:. Die raad behou die reg voor om inspekteurs te stuur om behoeftige huishoudings te besoek om die akkuraatheid van die data in die aansoekvorm te oudit, en om enige veranderings in omstandighede aan te teken, en aanbevelings te maak oor die voortsetting of staking van die subsidie.. Inligting aangaande ’n rekeninghouer kan geverifieer word deur die soek- en opspoorstelsel van die raad se diensverskaffer.

“Met die aansoek het meneer Ox ook toestemming verleen dat inligting geverifieer mag word. Die vorm, soos voltooi deur die verbruiker, is geprosesseer in die deernisstelsel, vandaar die verskil in die formaat van die aansoek voltooi en die aansoek geprosesseer. Hy het egter toestemming gegee op die voltooide vorm met sy handtekening vir die verifikasie van inligting.”

Volgens Burger klink die bedrae genoem deur Ox onbekend.

“Dit kan egter wel genoem word dat, weens ’n langer leesperiode in Junie, die kragverbruik negatief geraak en ’n herberekening gedoen is ten einde die verbruiker ’n finansiële voordeel te gee.”

You need to be Logged In to leave a comment.