Ekonoom Dawie Roodt voorspel dat die Amerikaanse ekonomie binnekort gaan ineenstort weens die “borrel” wat die sentrale bankstelsel veroorsaak.
Gepaard met die “uitsonderlik ondoeltreffende Suid-Afrikaanse regering, wat geweldige skade aan die ekonomie veroorsaak”, moet Weskussers maar steeds hul beursies styf toehou.
Roodt het op die Velddrif-sakekamer-byeenkoms verlede Donderdag by die Port Owen-seiljagklub ’n blitsprentjie geskets oor die pad wat tot by die huidige swak ekonomie gelei het. Hy het ook redes verskaf waarom beleggers eerder hul geld oorsee moet belê.
Roodt het verwys na die veranderende ekonomiese klimaat sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog en spesifiek verwys na die vestiging van sentrale banke, soos die Suid-Afrikaanse Reserwebank. Dié bank, soos verskeie ander sentrale banke, is in privaat besit en het die monopolie om geld te druk.
Hy het verduidelik dat die reserwebank geld druk, maar dat dit op niks gegrond is nie. Daar is nie goud vir elke rand wat gedruk word nie.
“As almal op een slag sou besluit om hul geld in die banke op te eis, sal die banke dit nie kan doen nie.
“Regerings is vandag reusagtige burokratiese monsters met regeringskuld die hoogste ooit. In sekere gevalle gaan dit onmoontlik wees om die skuld ooit terug te betaal.”
Roodt meen dat linksgesinde bevrydingsorganisasies gewoonlik afskuwelike regerings uitmaak.
“Die ANC het in 1994 van karakter verander – van ’n bevrydingsorganisasie na iets anders, meer Westers, ’n neoliberale organisasie wat finansiële markte wou liberaliseer en privatiseer.”
Alles goeie ekonomiese stappe, meen Roodt, want die land se skuld is verminder, veral onder Trevor Manuel.
“Vyf jaar ná Manuel is staatskuld egter meer as 50% van die bruto binnelandse produk (BBP) en sekere staatsbeheerde entiteite skuld meer as 70% van die BBP.”
In 2008-’09, volgens Roodt, het die ANC weer “van karakter verander en teruggekeer na sy wortels as bevrydingsorganisasie, met slagspreuke soos ‘radikale ekonomiese transformasie’.
“Dit saai net verwarring, onsekerheid en pas nie in by ’n demokrasie nie.
“Onder Zuma het dinge verskriklik begin verkeerd gaan met sekere staatsinstansies soos Eskom en die SAL wat basies vernietig is.”
Roodt het ook verwys na Cosatu wat aanvanklik arbeid verteenwoordig het maar, volgens hom, vandag hoofsaaklik staatsamptenare verteenwoordig, wat “baie druk op die regering plaas om ’n magdom amptenare aan te stel wat hopeloos te veel betaal word.
“Dit is waarheen al ons geld gaan.”
Roodt meen die lomp departemente is nog ’n rede waarom die land afgegradeer is.
Roodt het derdens na die Leninistiese ideologiese grondslag verwys as die rede waarom die ANC alles sentraliseer.
“Dit is waar kaderaanstellings vandaan kom én wat ons vandag staatskaping noem.”
Ekonomie gaan stagneer
Roodt voorspel dat die lugleegte, wat vorm weens die druk van geld gebaseer op niks, gaan bars. Hy het ook voorspel dat daar moontlik nie in Desember ’n ANC-verkiesing gaan plaasvind nie.
“Zuma gaan heel moontlik aanbly tot in 2019 óf Nkosazana Dlamini-Zuma gaan president word.”
“Die ekonomie gaan nêrens gaan tot dan nie. Een ou gaan in elk geval nie dinge omdraai nie en die ANC kan nie reggemaak word nie. Die enigste manier om die verrotting van die land te keer, is om die politieke elite te vervang.”
Roodt, volgens hom ook nie ’n groot DA-ondersteuner nie, stem wel saam met die party se leier, Mmusi Maimane, dat daar so gou as moontlik ’n algemene verkiesing gehou moet word. “Ons het ’n nuwe regering met ’n nuwe mandaat nodig.”
Roodt waarsku egter dat om oorsee te belê, met risiko gepaard kan gaan en dat mense moet seker maak dat hulle raadgewer geregistreerd is.
“Anders kan dinge sleg skeefloop.”