Ashlon Davids het onlangs SA Rugby se Carling Curriebeker First Division Speler van die Jaar vir 2024-toekenning gewen. By hom staan Adv. Willie Smal, en Thomas Lawrence (Direkteur Castle Lager) wat die toekenning aan hom oorhandig het.

Ashlon Davids (31), ‘n oudleerder van Schoonspruit Sekondêr en wat vandag lid is van die Sanlam-Boland-Kavaliers, was een van die provinsie se groot wenners by vanjaar se SA Rugby-prysuitdeling.

Davids, van Kalbaskraal buite Malmesbury, is op Donderdag 13 Maart by die spoggeleentheid in Kaapstad se Internasionale Konferensiesentrum as die Carling-Curriebeker-eersteligas se Speler van die Jaar vir 2024 aangewys.

Sy kaptein, Thurlow Marsh, is ook vir dié prys benoem, maar die titel is uiteindelik deur Davids opgeraap.

Die prys volg nadat hy lid van die wenspan van verlede jaar se eersteligatoernooi was en onlangs met 12 punte tot die Kavaliers se sege oor die Toyota Cheetahs in die SA Beker-toernooi in Wellington met puik skopvoetwerk bygedra het.

Davids het volgens sy oudskoolhoof Raynard de Jager reeds sy merk as rugbyspeler gemaak toe hy die eerste keer as 14-jarige sy skool op die rugbyveld verteenwoordig het. Hy het sy buiging in die skool se eerste rugbyspan in 2009 as ‘n gr. 11-leerder gemaak, waarna hy sy matriekjaar as een van die top-vyf-puntemakers in die Wes-Kaap afgesluit het.

Sy prestasies op die veld het hom kort daarna ‘n plek in 2010 se Boland o.18-Cravenweekspan verseker, gevolg deur sy opname in die Goue Leeus- rugbyunie, waar hy die o.19- en o.21-spanne op Curriebeker- en Super Rugby-vlak verteenwoordig het.

Die jong speler het intussen by die Griekwas aangesluit voordat hy na die Boland Kavaliers terug is.

Davids het die toekenning as ‘n “groot voorreg” beskryf en beskou dit as baie spesiaal juis omdat hy van ‘n klein dorpie soos Kalbaskraal af kom, waar hy geleer rugby speel het. Volgens hom hoop hy die toekenning insipreer ander jong rugbyspelers om groot te droom.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 November 2025
    Weslander E-Edition – 13 November 2025