Alida Buckle
‘n Gesonde gees van mededinging het verlede Saterdag (24 Mei) op die opgeknapte Vredenburg-gholfbaan geheers tussen die spanne in die A-afdeling van die sosiale Nelson-liga wat mekaar die stryd kom aansê het.
Gholfspelers van Darling, Ceres, Citrusdal en Moorreesburg het in spanne van tien spelers elk teen mekaar kom meeding. Worcester Barbarians en De Hoek moes hulle ongelukkig onttrek.
Die manne en ‘n paar vroue het bymekaargekom op dié sonnige herfsdag vir ‘n dag van gholf en kameraadskap op lowergroen setperke.
Darling het teen Citrusdal gewen en Moorreesburg teen Ceres.
Ná etlike ure se spel het die spanne na die klubhuis teruggekeer vir ‘n welver- diende ete en ‘n bietjie lafenis.
Die toernooi volg die vierbal-beterbalformaat, wat beide ervare spelers en amateurs toegelaat het om hul vaardighede te vertoon terwyl hulle die spel geniet. In die A-afdeling staan Citrusdal op die oomblik eerste op die punteleer.
Vredenburg het Saterdag in die B-afdeling in Ceres gaan deelneem en Porterville geklop. Vredenburg staan nou in die derde plek op die B-afdeling se punteleer met Worcester in die eerste plek en Bergrivier tweede.





