Geliefde danser se oorskot in berge gevind nadat hy sedert Januarie vermis word

Die gemeenskap van Piketberg treur oor die tragiese dood van Tyrone Zoutman (32), ‘n talentvolle danser en choreograaf. Hy was vir vier maande vermis voordat sy ontbinde lyk in die berge gevind is. Sy ma, Michelle, was altyd hoopvol dat hy sou terugkeer. Tyrone het ‘n groot impak op die plaaslike kunsgemeenskap gehad.


Die gemeenskap van Piketberg en die plaaslike kunstewêreld betreur die dood van die talentvolle Tyrone Zoutman (32).

‘n Hartverskeurende ma moet nou die nuus verwerk dat haar enigste seun nie weer na haar sal terugkeer nie. Michelle (Belinda) Zoutman wag sedert Januarie vanjaar biddend vir haar seun om terug te keer nadat hy destyds op Dinsdag 7 Januarie vermis geraak het.

Dit is egter eergister (Dinsdag 22 April) bevestig dat die ontbinde lyk wat aan die einde van verlede maand – op Maandag 24 Maart – in die berge van Piketberg gevind is, dié van Tyrone is.

Volgens AO Silke Lourens, ‘n polisiewoordvoerder van Piketberg, is die polisie omstreeks 15:30 daardie dag ingelig oor menslike oorskot wat in die berg gevind is.

“Polisiebeamptes het by die toneel aangekom en ‘n lyk gevind wat redelik ontbind was – geklee in ‘n grys frokkie, swart Adidas-broek en wit Adidas- tekkies aan sy voete. Ambulans- en forensiese dienste is gekontak en die slagoffer is dood verklaar. Lede van die misdaadrekordsentrum was op die toneel en het foto’s geneem, waarna die forensiese dienste die lyk na die Malmesbury-

lykshuis geneem het. Inligting het getoon dat dit wel die lyk van Tyrone Zoutman sou kon wees.”

Lourens sê Tyrone se identiteit is met behulp van ‘n identikit-foto bevestig.

Michelle vertel Tyron het soos gewoonlik op Dinsdag 7 Januarie gaan draf, maar wel vroeër as gewoonlik. Toe hy nie teen 16:00 teruggekeer het nie, het sy bekommerd geraak en die strate ingevaar om haar kind te soek. Teen 18:00 het Michelle haar seun as vermis aangemeld.

“Van daai dag af het niemand Tyrone gesien nie. Wat vir my snaaks is, is dat hy almal ken en almal hom ken, maar steeds het niemand hom gesien nie. As ‘n ma het ek aanhou vertrou dat hy sou terugkom huis toe. Ek het steeds baie vrae.”

Michelle se vertroue en geloof in die Here het haar tot dusver staande gehou.

“Ek gaan ons noue band mis – en sy sprangkelende lag. Hy het bo sy omstandighede uitgestyg en sy passie uitgeleef.”

Tyrone was ‘n danser, sanger en choreograaf wat al van kleintyd sy passie vir die uitvoerende kunste uitgeleef en talle mylpale bereik het. Hy was die stigter van die Zoutman-dansmaatskappy en Lekker Jy? Produksies. Hy het sy talente gebruik om in die gemeenskap in te ploeg.

Ray van Rooy, die burgemeester van die Bergrivier-munisipaliteit, sê Tyrone was iemand wat net die beste uit die lewe wou hê. “Hy was baie lief vir kultuur soos drama en ballet en het altyd die jongmense daarmee besig gehou.”

Chantal Booyse, ‘n vriend van Tyrone in die kunste, het hom in 2020 leer ken.

“Ons het op ‘n tydstip albei besef dat ons dorp, Piketberg, ‘n kreatiewe revolusie nodig het – nie net vir onsself nie, maar vir die jeug; die dromers; die verlore stemme. Ons kreatiewe reis het begin met Jeug Teater – daardie klein repetisielokaal waar drome groter was as begrotings en waar ons harte elke week meer oopgegaan het vir die potensiaal van ons mense.

“Tyrone was ‘n paradoks – een van daardie sielvolle mense wat jou op ‘n Maandagoggend kon laat voel of dit al

Vrydagaand is. Hy het altyd aan ‘n stille storm gedra – ‘n wilde kreatiwiteit wat moeilik was om vas te vang of te tem. Sy teenwoordigheid was magneties.

“Hy was nie net ‘n vriend nie, maar ‘n vennoot in drome en nou, meer as ooit, voel ek verplig om die werk voort te sit. Vir hom; vir ons.”

Zoutman se dood word ondersoek.

Tyrone, wat ‘n aansteeklike passie vir dans en sing gehad het, laat ‘n leemte.

You need to be Logged In to leave a comment.