Die geloofsanker van die vis- sersgemeenskap aan die Wes- kus het Sondag 9 November weer sterk na vore gekom by die interkerklike dankdiens in die Laaiplek-hawe.
Dit is jaarliks ‘n geleentheid waar vissers, hul gesinne en die families van gestorwe vissermanne saamkom om dank te betoon vir die jaar se beskerming en seëninge.
Pastoor Lorentz La Grange het van Pretoria in Gauteng gekom om die besondere dankseggingsdiens te kom lei. Hy het begin met 1 Kronieke 29 vers 16: “Alles behoort aan die Here”.
Hoewel die afgelope seisoen swaar was vir vissermanne met soms leë nette en nie altyd goeie vangste nie, het La Grange hulle bemoedig: “Ons oë moet nie op die seisoen wees nie, maar op God, en ons moet vir die Here dankie sê – al was die nette soms leeg – want alles behoort aan Hom.”
Die diens was ‘n oomblik van nadenke. “Vissers word soms oorval deur die gees van Amalek,” het La Grange gesê. “Maar, ons word herinner aan die woorde van Johannes 10:10: ‘Die dief het gekom om te steel, maar Jesus het gekom om te herstel.’ Die Amaleks van die lewe wil jou moedeloos maak en jou vrede kom steel, maar daar is oorwinning in Christus.”
Hy het ook gelees uit Habakuk 3:17 tot 18, waar die profeet verklaar dat selfs al sou die vyeboom nie bot nie en die lande geen oes lewer nie, hy nogtans die Here sal loof. “Al sou die nette leeg wees, nogtans sal ek die Here loof, want niks is vir Hom onmoontlik nie,” het Le Grange gesê.
In sy boodskap het hy die verhaal van Moses, Aäron en Hur uit Eksodus 17 gebruik as metafoor vir gemeenskapsamehorigheid. “Toe Moses se arms moeg geword het, het Aäron en Hur hulle opgehou sodat Josua die Amalekiete kon oorwin.
“Net so moet ons mekaar ondersteun,” het hy gesê.
As simboliese daad van ondersteuning is al die vissermanne gevra om op te staan, terwyl die gemeentelede hul arms in die lug gehou het as teken van eenheid en gebed. Daarna is die vissers na vore geroep, waarna spesifiek vir hulle gebid is vir krag, voorspoed en beskerming in die komende jaar. Met vissersbote in die agtergrond het die hawe weergalm van lofgesang en gebed – ‘n teken van dankbaarheid en hoop vir die seisoen wat verby is en dié wat nog kom.
Die diens is afgesluit met ‘n herinnering aan die losgooidiens, wat weer op Sondag 11 Januarie 2026 by die hawe gehou sal word.



