Meer as 200 mense het op 10 November op ’n bewolkte Sondagoggend byeengekom op ’n sementkaai naby aan waar die Bergrivier in die see uitmond. Die doel was om vir God dankie te sê vir die jaar se visseisoen wat verby is, maar ook om as gemeenskap om ’n gesin te kom staan wat hartseer is.
Megan Fransman het hardop gehuil terwyl sy ’n blommekrans in die rivier se waters moes gooi vir haar man, Jeffrey (35).
Hy het in April vanjaar van ’n vistreiler af oorboord geval en is nooit gevind nie. Om haar was hul drie klein seuntjies, sy tienerdogter en van hul familie. Terwyl sy na die rivier gestap het, het die mense wat in hul motors na die diens gesit en luister het, hul toeters gedruk. Ná die tyd het oral mense gesit wat trane afdroog.
Kerkbode en DJ Muller van Kaapkerk was ook hier. “Ons kon beleef hierdie is ’n klein hegte gemeenskap waarin een of meer in menige familie op een of ander manier by die visbedryf betrokke is – dikwels al vir geslagte lank.”
Dit is al langer as 12 jaar die tradisie om die visseisoen op dieselfde sementkaai langs die Bergrivier te begin met ’n opelugdiens wat jaarliks deur honderde mense bygewoon word.
Die idee vir hierdie dankdiens het meer onlangs van pastoor Christopher Horn gekom. Hy is ’n oud-polisiekapelaan wat ’n paar jaar gelede uit die Kaap in Velddrif kom aftree het en nou ’n eie gemeente het.
Hy het ná die tyd vertel dit was in sy hart dat so ’n diens gepas sal wees.
Hy het dit eers alleen gedoen, maar vanjaar was hulle vyf kerke wat saamgewerk het. Hy sê hy dink hierdie eenheid tussen hul vyf kerkleiers is goed vir hul gemeenskap om te ervaar.
Velddrif se eerste NG vrouedominee, Elize Stander, het aan die einde van die diens gesê: “Dit is vir my ’n verskriklike groot voorreg om deel van hierdie hawedienste te wees.”
Sy, ds. Charl van Rensburg van Laaiplek en ds. Tony Masent van die VGK het met Horn en die PPK-pastoor Jan Afrikaner van Laaiplek hande gevat om die geleentheid te hou.
Elkeen was op ’n manier deel van die oggend se twee uur lange program met Afrikaner se boodskap wat gekom het uit 1 Tessalonissense 5:18: “Wees in alle omstandighede dankbaar…”
Kort ná elfuur was die laaste amen verby en die parkeerterrein leeg … tot ’n Sondagoggend in Januarie. Dan gaan hulle weer vir God dankie sê vir die vissermanne en Sy hulp vra vir die nuwe jaar se visseisoen.
By Megan het mense gehoor dat die bywoon van dié diens – wat sy eers nie wou bywoon nie oor sy gevrees het dit sou ou wonde oopkrap – ook vir haar goed was.. Hierdie berig het oorspronklik verskyn in Kerkbode, die nuusblad van die NG Kerk.