Nóg ’n aanklag gaan moontlik by die bestaande 16 aanklagte van bedrog of alternatiewelik diefstal teen Mandy Wood (51), ’n eiendomsagent van Langebaan, gevoeg word.

Wood staan tereg oor beweerde bedrog met vakansieverblyf ten bedrae van sowat R270 000 (“Nog klagtes teen eiendomsagent”, Weslander, 23 Januarie).

Sy het weer op Donderdag 30 Januarie in die Hopefield-landdroshof verskyn. Dié landdroshof hanteer sake wat uit Langebaan spruit.

Volgens die staatsaanklaer Dolf Nel is die saak weer uitgestel vir verdere onderhandelings oor ’n moontlike pleitooreenkoms met die staat. Dit beteken dat Wood moontlik skuld sal beken om ’n swaar vonnis vry te spring. Indien die pleitonderhandelings met die staat nie slaag nie, sal die staat vir tronkstraf vra.

Talle vakansiegangers beskuldig Wood daarvan dat sy hul geld vir Weskus-vakansie­verblyf tussen Dinsdag 24 Desember 2024 en Vrydag 25 Januarie vanjaar gesteel het. Sy het nooit die besprekings gedoen nie en glo “per ongeluk” die klaers “dubbeld” vir vakansieverblyf bespreek. Die vakansiegangers het voor dooiemansdeur beland en die dubbele bedrae het glo in Wood se sak beland.

Wood het vakansieverblyf op verskeie platforms soos Facebook geadverteer onder Western Cape Coastal Holiday Bookings, Mandy Wood Properties en Mandy Wood Guesthouses and Property Management.

Sy het reeds in Januarie haar aansoek om borgtog laat vaar en word sedert haar inhegtenisneming by die Langebaan-polisiekantoor in Desember verlede jaar in die Pollsmoor-vrouegevangenis aangehou.

Sy verskyn weer op Dinsdag 11 Februarie in die hof.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025