Curro-pad kry nuwe verkeerslig

Motoriste en inwoners van Langebaan kan begin uitsien na die langverwagte verkeersligte op die MR559-pad by die Curro- en Longacres-aansluiting.


Motoriste en inwoners van Langebaan kan begin uitsien na die langverwagte verkeersligte op die MR559-pad by die Curro- en Longacres-aansluiting.Die oprig van hierdie verkeersligte sal by al vier rigtings geplaas word en sal teen Dinsdag 23 Februarie 2021 voltooi wees.

 Die gemeenskap se versoeke dat verkeersligte hier opgerig word ná jare se kommer en klagtes oor botsings en verkeersknope by hierdie kruispad, word uiteindelik verwesenlik.Voordat die oprigting van die nuwe verkeersligte kon plaasvind, moes goedkeuring eers by die provinsiale regering verkry word, wat uiteindelik in November ’n werklikheid geword het. Rolspelers van dié projek het Maandag 23 November bymekaargekom om die plan te bespreek en dit amptelik te maak.Volgens Gerhard Erasmus, besturende direkteur van Prime Growth Property Development Group, sal die verkeersligte met die verkeersvloei by die onafhanklike Curro-skool help.

 Eddie Conradie, uitvoerende hoof van Curro Langebaan, het ook almal bedank wat betrokke is en is dit eens dat hierdie nuwe verkeersaansluiting die veiligheid van leerders sal verseker en verkeersvloei help reguleer.Marius Koen, die burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit, het gesê die oprigting van hierdie verkeersligte is ’n “geskiedkundige gebeurtenis”, ’n “eerste vir die dorp”, en “die begin van ’n nuwe era vir Langebaan”. “Dit gaan ook oor die veiligheid van die kinders en inwoners,” het Koen bygevoeg.

Die verkeersligte sal veilige toegang beskikbaar maak vir voetgangers en voorsiening is gemaak dat die ligte sal aanhou werk indien beurtkrag weer ingestel word of enige ander kragonderbreking voorkom.Nog ontwikkeling sal in Langebaan deur die loop van die volgende drie tot vyf jaar plaasvind. Prime Growth Property Development Group is ook aan die stuur van ander ontwikkelinge soos onder meer ’n hospitaal en aftreeoord vir die dorp. Volgens Erasmus sal die verkeersligte baie vir die gemeenskap en hul veiligheid beteken. 

“Die mense is vir ons belangrik en ons ontwikkel waar die behoefte is,” het Erasmus gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.