Met die Comrades-marathon verby, gons almal op sosiale media oor die atlete wat deelgeneem het – en ook Gerda (Steyn) wat weer ’n rekord opgestel het.

Ek sit en dink aan verskillende mense wat in verskillende seisoene van hul lewe is.

Ek, byvoorbeeld, het ’n paar mense op my sosialemediablaaie wat aan die Comrades deelgeneem het, maar die uwe – ek – kry te koud om op te staan om vir myself ’n koppie warm koffie te maak. Die luiheid wat oor my in die koue kom, is iets verskrikliks.

So, terwyl ek op my bank sit, kyk ek na almal se opwindende reise na die marathon en al die maande se beplanning wat in hierdie een oomblik bymekaarkom. “The Ultimate Human Race”, noem hulle die Comrades.

Ek is human – mens genoeg om te weet dat ek eerder op die bank wil sit, onder my warm kniekombersie, met ’n koppie koffie wat vir my bedien word.

Dit laat my toe dink aan die mens se reis. Ek kyk in die dorp en sien mense wat 5 km tot 10 km dorp toe stap – werk toe, kerk toe, skool toe . . . Waar hulle wil wees, daarheen moet hulle stap. Hulle het geen ander vervoermiddel nie en openbare vervoer is nie altyd vir almal bekostigbaar nie.

Daardie geld kan eerder weer ingespan word vir ’n ekstra aankoop.

Hierdie mense is in ’n heeltemal ander seisoen van hul lewe. Om 5 km of 10 km te stap is vir hulle ’n daaglikse oorlewingstaak.

Ek, aan die ander kant, plaas dit oral as ek ’n 5-km-pretdraf doen – op Facebook; selfs in die koerant. Of ek stuur dit sommer self aan vir mense om doodseker te maak almal weet ek het dit gedoen. Mense moet my aanmoedig met ’n watertafel, ’n eindpunt met musiek en ’n medalje.

Want ek – ja, ek – het dit gedoen.

Ek sluit af deur te sê dit maak nie saak wat jou Ultimate Human Race hierdie jaar is nie, hetsy die Comrades of om net die dag te oorleef – doen dit voluit.

Ek wens ek kon vir elke mens ’n medalje gee vir die resies waarmee jy besig is in die wedloop van die lewe.

Ons almal se pad is nie altyd maklik nie. Almal van ons kry so ’n bietjie rowwe terrein en dae wanneer dit voel asof jy die wêreld se gewig op jou skouers dra.

Weet net dat dit tydelik is. Die lewe gaan oor balans en die weegskaal sal homself regtrek, al voel dit dalk nie vandag vir jou so nie.

Aan almal wat wel die Comrades gehardloop het: Baie geluk, julle inspireer ons almal om beter te wil doen.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025