’n Gereelde politieke oorloper, Sammy Claassen, het vandeesmaand sy DA-hempie vir ’n nuwe party verruil.
Nege maande nadat Claassen met groot ophef deur die Demokratiese Alliansie (DA) verwelkom is, het hy verlede week die party amptelik verlaat weens dié party se standpunt oor die oorlog in Gasa.
“Ek doen dit omdat lede van die DA en openbare verteenwoordigers nie toegelaat word om protes aan te teken teen die volksmoord wat in Palestina plaasvind nie,” het Claassen in ’n verklaring oor sy bedanking gesê.
Claassen se voormalige party ondersteun ’n tweestaatoplossing vir die Israel-Palestynse konflik. Ten spyte van sy bedanking uit die DA, was Claassen vol lof vir die DA se leierskap.
“Ek het geen kwade gevoelens teen die DA nie – inteendeel, ek het baie meer respek vir werketiek, toewyding en professionalisme gekry in hul poging om Suid-Afrika te red. Hulle het my altyd met respek en waardering hanteer en my die nodige steun gegee,” sê Claassen.
Dit was egter nie genoeg vir Claassen om by die “blou masjien” te bly nie en hy is nou lid van Marius Fransman se People’s Movement for Change (PMC).
Claassen, soos Fransman self, was in ’n stadium ook tot die ANC verbind.
Benewens die ANC was Claassen oor die jare verbonde aan die destydse Onafhanklike Demokrate, die GOOD-party, en – voor sy tyd by die DA – die Patriotic Alliance. Hy was ook vir ’n tyd lank burgemeester van die Bergrivier-munisipaliteit en was al raadslid van die Saldanhabaai-munisipaliteit – destyds onder die vaandel van die PA.
Volgens Fransman sal die PMC vanjaar in die nasionale verkiesing staan.