Drie items. Drie medaljes.

Catherine Murray (18) se prestasies in vanjaar se atletiekseisoen kan net as uitsonderlik beskryf word.

Dié matriekleerder by die Weskus Skool in Saldanha het vanjaar in drie items die nasionale atletiekkampioenskap gehaal, en in al drie items medaljes verower.

Vir die prestasie is sy as Weslander se SuperSport Let’s Play-sportster van die Maand vir April aangewys.

In die meisies o.18 spiesgooi het Murray ’n silwermedalje behaal, asook in die 400 m, waar Murray in ’n tyd van 59,9 sekondes klaargemaak het.

Met twee silwermedaljes in die sakkie, het Murray ’n kans gehad om daardie ontwykende goue medalje in die 4 x 400 m aflos te verower, ’n prestasie wat sy toe wel behaal het om met drie medaljes huis toe te kom.

Die prestasie het gevolg ná Murray by die Wes-Kaap-kampioenskap ook drie medaljes behaal het.

Murray, wat by die Salkoriane-atletiekklub in Vredenburg oefen, is ook vroeër vanjaar as haar skool se Victrix Ludorum-atleet aangewys.

“Catherine is ’n baie gemotiveerde atleet wat ernstig is oor haar sport,” het Sakkie Mentoor, voorsitter van die Salkoriane-atletiekklub, Murray beskryf.

Mentoor het ook Murray se positiewe gesindheid in alles wat sy aanpak as die groot resep vir haar sukses beskryf.

You need to be Logged In to leave a comment.