In die vak ekonomie leer ’n mens van “substituut-goedere”. Dit beteken indien een produk se prys die hoogte in sou skiet, sal jy dit waarskynlik oorweeg om iets soortgelyks, wat nie noodwendig jou eerste keuse is nie, in die plek daarvan te koop – ’n substituut. Jou gunstelingdrankie is byvoorbeeld wyn, maar as die prys van wyn oornag die hoogte in skiet, kan jy dit oorweeg om oor te slaan na bier, mits bier se prys dieselfde bly.
Ongelukkig het ons nie substituut-produkte vir brandstof nie. Om my motor se wiele te laat draai, moet ek petrol ingooi – niks anders nie.
Die laaste paar maande het die prys van brandstof die hoogte in geskiet. Aangesien geen “substituut” daarvoor bestaan nie, kan ’n mens in die kort termyn nie veel daaraan doen nie, behalwe om jou ritte te beperk. Op die langer termyn kan ’n mens dit oorweeg om ’n motor wat ligter op brandstof is, te koop.
Die ander hedendaagse opsie is om ’n elektriese voertuig te oorweeg. Ongelukkig kom ’n mens in hierdie geval te staan voor die werklikheid van Eskom se onvermoë om genoeg elektrisiteit op te wek. Dink nou net as jy dringend iewers heen moet ry en jou motor se battery is pap op ’n tydstip wat dit juis jou omgewing se beurt is om nie krag te hê nie.
Nou sien ek Eskom, wat nie genoeg krag kan voorsien nie, wil volgende jaar ’n 32%-verhoging in sy tariewe hê. Een politieke party se reaksie was dat Suid-Afrikaners nie bereid is om meer te betaal vir donkerte nie.
Ongelukkig veroorsaak die kombinasie van hemelhoë brandstofpryse en beurtkrag (baie sakeondernemings moet tydens beurtkrag hul eie krag ten duurste opwek) dat die inflasiekoers al byna 8% is. Die Reserwebank se mikpunt vir die inflasiekoers is egter maar tussen 3% en 6%.
Om inflasie hok te slaan, pas die Reserwebank gewoonlik rentekoerse opwaarts aan. Die hoër maandelikse paaiemente behoort mense te ontmoedig om op skuld te koop. Dit is presies wat einde Julie gebeur het toe rentekoerse met ’n verdere 0,75% verhoog is. Dit bring die prima-uitleenkoers nou op 9% te staan. ’n Jaar gelede was dit maar 7%.
Jare gelede was ’n welaf familielid lief daarvoor om by te bly met die nuutste modelle motors en elektroniese toerusting. Sy vrou se kommentaar was dan gewoonlik “Koop se gat is weer oop”, menende die gat in die beursie waardeur die geld vryelik uitvloei.
Aan die ander kant is daar weer diegene wat altyd drie keer dink voordat enige geld sy of haar beursie sal verlaat. My pa het altyd gesê so iemand se beursie word so min oopgemaak dat wanneer hy dit wel doen om ’n geldnoot uit te haal om te betaal, Nelson Mandela (wie se gesig op die note gedruk is) sy oë knip, want hulle is nie gewoond aan die lig nie.
Met die huidige ekonomiese knyptang wat ons ervaar, glo ek die meeste van ons sal maar vir eers ons beursies ’n bietjie minder moet oopmaak. Ongelukkig word sake-eienaars op hul beurt negatief geraak wanneer klante minder bestee – dit wil sê, die hele ekonomie is besig om na ’n laer rat toe oor te skakel.
Wat staan ons te doen in sulke ekonomies uitdagende tye?. Vermy verbruikerskrediet sover moontlik. Dit is veral korttermynkrediet soos vir klere en meubels, wat onbekostigbaar raak. Die rentekoerse op sulke produkte is besonder hoog.. Indien enigsins moontlik, koop kontant.. Aangesien hoër rentekoerse maandelikse paaiemente laat styg, is dit voordelig om eerder skuld af te betaal as om nuwe skuld aan te gaan.. Bly kalm. ’n Bekende gesegde lui: “Tough times don’t last, but tough people do.” Ons ouers en grootouers het in die vorige eeu eers die Groot Depressie met gepaardgaande hoë werkloosheid beleef en net daarna die Tweede Wêreldoorlog. Dit was ’n tydperk van langer as vyftien jaar. Ná die oorlog het die meeste lande groot ekonomiese groei en vooruitgang beleef.
Laat ons vasbyt en aanhou hard werk vir ’n beter toekoms vir ons kinders.* David Malherbe is ’n sake- en loopbaan-konsultant van Langebaan. Kontak hom gerus by davidmalherbe1@gmail.com.


