Weskus Woord, ’n plaaslike kerk in Jacobsbaai, het verlede Saterdag (21 September) ’n suksesvolle lenteloop vir die inwoners en hul honde van Jacobsbaai en omgewing aangebied.
Altesaam 46 stappers het die roete van 6 of 9 km aangepak wat deur die woongebied gekronkel het tot by Tooth Rock en toe seelangs terug tot by die beginpunt, die plaaslike koffiewinkel.
Deelnemers is bederf met ’n gratis heerlike boereworsrol en ’n koue koeldrank. Pryse is uitgedeel aan die gelukkige deelnemers wat ook ingesluit het die oudste en jongste deelnemer, bes geklede wenner en die een met die kleurvolste haarstyl.
Volgens Frans le Roux van Weskus Woord is die doel van die lenteloop om lente en die pragtige omgewing saam met die gemeenskap van Jacobsbaai te vier.
“Ons droom om dit ’n jaarlikse instelling te maak met nog baie meer deelnemers om so ons mooi Weskus met mekaar te deel,” voeg Le Roux by.