Buurtwagte en polisiebeamptes van verskeie gebiede in die Weskus-streek het Vrydag (26 Augustus) by die Vredenburg-hof byeengekom vir ’n gesamentlike patrollie deur die dorp.


’n Gesamentlike optrede deur verskeie buurtwagte van die Weskus is Vrydag 26 Augustus in Vredenburg van stapel gestuur.

Die optrede, in samewerking met polisiebeamptes van so ver as Citrusdal, Clanwilliam, Piketberg en ander, het tot die beslaglegging op onder meer onwettige vuurwapens en dwelms gelei.

Volgens Sammy Springleer, die sekretaris van die Oudorp-buurtwag, was die doel om Vredenburg te patrolleer en visuele bewustheid te skep. “Die mandaat was om dwelmhuise, onwettige smokkelhuise en onwettige wapens op te spoor. Sover ek weet, het die polisie redelike sukses behaal en op onder meer vuurwapens en dwelms beslag gelê,” sê hy.

Springleer sê die buurtwagte het heelwat “karakters” uit die dorp verjaag. “Ons het die dorp gepatrolleer en ongewenste mense verwilder.”

Springleer moedig almal aan om by buurtwagte aan te sluit en só ’n verskil in hul dorp te maak en sodoende veiligheid te bevorder.

You need to be Logged In to leave a comment.