Vredenburg het Saldanha, die voormalige Boland-kampioen, Saterdag met karakter en veggees uit die eerste plek gestamp. Vredenburg se “Burg Boys” het die wedstryd op sy tuisveld 27-25 gewen nadat hy rustyd 3-20 agter was.
Die oorwinning het ook Vredenburg met vyf punte voor Saldanha op die punteleer geplaas.
Saldanha het soos ’n kampioenspan in die eerste helfte gespeel en ’n wegholoorwinning was in sig. Die Blou tsoenami het gou 7-0 voorgeloop nadat die besoekers ’n verdoelde drie behaal het.
Saldanha het binne ’n paar minute hul voorsprong verdubbel met hul tweede verdoelde drie nadat die tuisspan nie al die gate kon toestop nie.
Vredenburg se eerste punte was ’n strafskop nadat die spanne se dissipline begin lol het.
Saldanha het voor rustyd twee strafskoppe oorgeklits om te gaan water drink met ’n 17-punt-voorsprong.
Vredenburg het egter in die tweede helfte gewys dat hulle gewis die hongerste van die twee spanne was en die voormalige kampioen moes die meeste van die verdediging doen.
St. Helenabaai blaas nou harder in die voormalige kampioen se nek in die derde plek. Die Agterbaaiers het met hul bonuspunt-weg-oorwinning oor Hopefield verseker dat hulle slegs vier punte agter Saldanha is met ’n wedstryd minder as die twee voorlopers en nie een van die drie topspanne kan nou ’n nederlaag bekostig nie.
Saldanha sal die naweek sy posisie wil verstewig wanneer hulle die Cove onthaal terwyl Vredenburg ’n blaaskans neem. St. Helenabaai sal op sy beurt weer volpunte wil behaal wanneer hulle Langebaan onthaal. Paternoster het nog ’n wiskundige kans en sal ook sy kanse lewendig wil hou wanneer hy Piketberg onthaal. Mamre het Saterdag op die Grafkelder geskiedenis gemaak toe die groen truie van Kenny Stadler hul eerste oorwinning daar behaal het. Mamre, wat volgende seisoen in die Swartlandstreek sal meeding, het die derby 15-13 gewen.
Stadler en sy troepe reis Saterdag na Velddrif terwyl Young Hearts na Hopefield reis. Volledige uitslae.Weskus: Vredenburg 27-25 Saldanha, Young Hearts 13-15 Mamre, Piketberg 13-21 Velddrif, Hopefield 31-48 St Helena en Paternoster 28-24 Steenberg’s Cove .Swartland: Goodhopes 19-12 Porterville, Saron 23-23 Villagers Wittewater, Darling 30-37 Wesbank en Riebeeck United 26-25 Moorreesburg
Die naweek se program is:
St.Helenabaai t. Langebaan, Velddrif t. Mamre, Saldanha t. Cove, Hopefield t. Hopefield en Paternoster t. Piketberg.