Burg Boys lei, en val toe vas

Vredenburg se Burg Boys het Saterdag op die Grafkelder in ‘n stryd tussen die twee onoorwonne spanne in die Weskus-streek teen die tuisspan vasgeval. Vredenburg, wat die wedstryd goed begin […]


Vredenburg se Burg Boys het Saterdag op die Grafkelder in ‘n stryd tussen die twee onoorwonne spanne in die Weskus-streek teen die tuisspan vasgeval. Vredenburg, wat die wedstryd goed begin het, is egter in die tweede helfte gewys enige span moet op die Grafkelder diep delf vir ‘n oorwinning.

Die Burg Boys, wat die stryd 21-39 verloor het, was rustyd 13-12 voor. Vredenburg het die troepe van die Grafkelder in die eerste helfte met aanvallende spel die meeste van die verdediging laat doen, maar kon egter nie hul kanse in punte omgeskep kry nie. Vredenburg, wat eerste bloed geruik het danksy ‘n strafskop, kon egter nie hierop voortbou nie.

Die tuisspan het koelkop gebly en is beloon met ‘n onverdoelde drie en het ook hul neus voor gekry. Vredenburg, met hope balbesit en gebiedsvoordeel, is egter op die agtervoet gehou met rotsvaste verdediging deur die tuisspan. Vredenburg het ook die vasteskrums in die eerste helfte oorheers, maar kon nie die kanse in punte omskep nie.

Die besoekers, wat vele kanse met vlymskerp breekslae geskep het, is egter op die agtervoet gehou. Die tuisspan het die tweede helfte begin soos ‘n span wat honger is om te wen en het nie teleur- gestel nie. Vredenburg se Burg Boys was egter net ‘n skadu van die eerste helfte.

Die besoekers moes keer vir al wat hulle werd was en is ook in die vaste skrums soos ‘n Shoprite-trollie rondgestoot. Die besoekers kon egter nie al die gate toestop nie en die tuisspan het nog ‘n verdere drie drieë gedruk, wat ook hul bonuspunt verseker het.

Die twee spanne was voor die wedstryd albei onoorwonne en met ‘n eerste plek op die spel, het Young Hearts se aanvallende troepe hul eer op die Grafkelder verdedig.

Die besoekers se dissipline het ooknietwat gelol terwyl die tuisspan ook nie juis engele was nie. Young Hearts het met die oorwinning die eerste plek op die punteleer ingeneem al het hy ‘n wedstryd minder as die ander gespeel.

• Ander uitslae in die Boland-grootuitdaagbeker-reeks was:

Weskus

Young Hearts 39-21 Vredenburg,

Paternoster 27-27 St. Helena,

Hopefield 23-22 Saldanha,

Velddrif 73-13 Goedverwacht en

Langebaan 46-30 Piketberg.

Swartland

Villagers Wittewater 17-16 Wesbank, Never Despairs 24-20 Abbotsdale, Darling 15-10 Moorreesburg, Goodhopes 38-31 Porterville en Voorberg 18-36 Mamre.

You need to be Logged In to leave a comment.