Burg Boys knak in Top-12

Die Sanlam-Boland-rugbyunie se Top-12-Grootuitdaagbeker-wedstryde het op 12 Oktober afgeskop en gemengde welslae vir die Weskusstreek opgelewer.


Die Sanlam-Boland-rugbyunie se Top-12-Grootuitdaagbeker-wedstryde het op 12 Oktober afgeskop en gemengde welslae vir die Weskusstreek opgelewer.

Vredenburg het op sy tuisveld teen die Overberg-naaswenner, Caledon, 26-32 vasgeval nadat die tuisspan rustyd 7-10 agter was. Die Burg Boys was reeds vroeg in die wedstryd onder druk toe die besoekers reeds in die derde minuut naby die tuisspan se doellyn kamp opgeslaan het.

Rotsvaste verdediging van die tuisspan en goeie dissipline het die besoekers op die agtervoet gehou en die tuisspan het die druk goed verwerk. Die besoekers kon nie deur die tuisspan se verdedigingslinie breek nie en die tuisspan kon met omgekeerde besit verligting bring.

Vredenburg het in die tiende minuut van die wedstryd die voortou geneem nadat Caledon nie sy springers in ’n lynstaan kon vind nie. Die tuisspan het die omgekeerde besit in ’n verdoelde drie omgeskep. Die tuisspan moes daarna keer vir al wat hy werd was en het sy voorsprong vir langer as 20 minute suksesvol verdedig.

Die besoekers het met sewe minute tot rustyd oor in drie minute 10 punte behaal met ’n strafskop en ’n verdoelde drie om die voortou te neem.

Die tuisspan, wat die tweede helfte met die wind in sy gesig gespeel het, moes toekyk hoe die besoekers die tweede helfte begin soos hulle die eerste helfte geëindig het.

Caledon het reeds in die tweede minuut van die tweede helfte sy voorsprong met ’n onverdoelde drie verdubbel. Die tuisspan het daarna verskeie kanse geskep om punte aan te teken en is beloon met ’n onverdoelde drie wat die agterstand tot drie punte laat krimp het.

Vredenburg, wat met hope balbesit en gebiedsvoordeel weer in die 51ste minuut met ’n verdoelde drie voor was, moes twee minute later toekyk hoe die besoekers ook met ’n verdoelde drie weer die voortou neem. Die besoekers het kort ná die lemoenpouse sy voorsprong met ’n strafskop tot ses punte gerek.

Met die laaste kwart van die wedstryd wat nog enige kant toe kon swaai, het die tuisspan met 10 minute oor ’n goeie kans verbrou om weer punte aan te teken toe hy meters van die besoekers se doellyn lynstaanbesit verloor het. Die besoekers het met minute oor ’n omstrede verdoelde drie behaal om die wedstryd buite die tuisspan se bereik te plaas.

Vredenburg het egter in die doodsnikke sy bonuspuntdrie behaal.

Saldanha het ’n goeie wegoorwinning behaal toe die blou tsunami Young Spurs van Doringbaai 46-16 geklop het.

. Volledige uitslae:

Safcol United 28-25 Ceres;

Young Spurs 16-46 Saldanha;

Vredenburg 26-32 Caledon;

Newtons 28-29 Villagers,

Robertson 64-21 Darling

. Wedstrydbepalings (Saterdag 19 Oktober):

Worcester Villagers t. Abbotsdale; Caledon t. Newtons; Saldanha t. Safcol United; Vanrhynsdorp Eagles t. Vredenburg; Darling t. Young Spurs; Ceres t. Robertson

You need to be Logged In to leave a comment.