Vredenburg se Burg Boys is die nuwe Weskus-streekkampioen.
Dié span van Ryno Benjamin het Saterdag in Mamre 18-20 vasgeval, maar het die een punt wat die span benodig het om as die nuwe kampioen gekroon te word, verdien deur met minder as sewe punte te verloor.
Mamre, wat ook sy laaste wedstryd in die streek gespeel het, het met die oorwinning ’n duidelike boodskap aan sy nuwe teenstanders volgende seisoen gestuur dat hulle nie ligtelik opgeneem kan word nie. Mamre, wat die eerste helfte oorheers het, het ook eerste bloed geruik met ’n verdoelde drie.
Mamre se groentruie het die besoekers met rotsvaste verdediging op die agtervoet gehou. Sy dissipline het egter die besoekers in die wedstryd gehou. Vredenburg het tot dusver onder Benjamin ’n droomseisoen beleef en nie opgegee nie en ’n onverdoelde drie met aanvallende spel behaal. Mamre het egter met sy rotsvaste verdediging die besoekers se beweegruimte beperk.
Vredenburg was rustyd met 11-17 agter en het vroeg in die tweede helfte met ’n verdoelde drie vir die eerste keer die voortou in die wedstryd geneem.
Die besoekers was 18-17 voor maar het enkele minute oor ’n strafskop afgestaan, wat deur die tuisspan verdoel is.
Albei spanne het hul ondersteuners vermaak met rugby wat goeie verdediging en aanvallende spel ingesluit het.
Vredenburg het egter verseker dat die tuisspan nie soos in die eerste helfte die wedstryd kon oorheers nie. Die Burg Boys het ook verseker dat die wedstryd nooit buite sy bereik was nie omdat hy slegs een punt vir die titel gekort het.
Vredenburg was voor die wedstryd gelyk met die voormalige Boland- kampioen, Saldanha, op die punteleer. Saldanha het gehoop dat Vredenburg nie die nodige punt sou kry nie. Saldanha sou dan die streekkampioen kon wees.
. St. Helenabaai het op die Grafkelder die tuisspan se seisoen met sy 35-26-oorwinning op ’n lae noot beëindig. St. Helenabaai het drie weke gelede nog ’n kans op die uitspeelwedstryde gehad, maar kon nie die onmoontlike vermag nie. Die Agterbaaiers het in die derde plek op die punteleer geëindig, met Paternoster vierde en Hopefield vyfde. Mamre het met sy oorwinning van die agtste tot in die sesde plek geskuif, terwyl Young Hearts in die sewende plek klaargemaak het.
. Die spanne wat vir die top-12-uitspele kwalifiseer, is Abbotsdale, Caledon, Ceres, Darling, Eagles, Robertson Town, Newtons, Safcol, Saldanha, Young Spurs, Villagers Worcester en Vredenburg. Dié 12 spanne sal op 25 September deur ’n loting in twee groepe verdeel word.