Vredenburg se Burg Boys het Saterdag die spook van die grafkelder met puik spel begrawe. Foto: Murphy Roberts


Vredenburg se Burg Boys het Saterdag die spook van die grafkelder begrawe en die tuisspan se kis laat sak.

Vredenburg het met die bonuspunt-oorwinning van 34-15 oor Young Hearts ook sy kanse om die uitspeelrondes te haal, lewendig gehou.

Die besoekers het reeds vroeg in die wedstryd gewys hulle het gekom vir vyf punte toe hulle binne 10 minute reeds 14-0 voor was. Die tuisspan het daarna momentum begin opbou en die telling op een tydstip tot 14-10 laat krimp.

Die Burg Boys was die meer aanvallende span en gewis die hongerste van die twee spanne. Vredenburg het met nog ’n verdoelde drie gaan water drink met die telling 21-10.

Die tuisspan het die tafel gedek vir ’n opwindende tweede helfte nadat hy ná volgehoue druk ’n onverdoelde drie aangeteken het. Ruben Abels se troepe het daarna egter verskeie kanse verbrou en die besoekers in die grond geskrum.

Vredenburg het egter die druk die beste verwerk en die tuisspan met rotsvaste verdediging onder druk gehou. Die besoekers het hulle egter uit die groef van die tuisspan gewikkel met ’n bonuspunt-drie en twee strafskoppe.

Die oorwinning het ook die Burg Boys se derde plek op die punteleer versterk en dié span blaas in die nek van die tweede geplaaste St. Helenabaai. Met nog vier ligawedstryde oor en slegs ses punte wat die voorste drie spanne skei, sal Abels en sy spelers hoop dat twee van die topdrie al hul oorblywende wedstryde verloor en hy volpunte uit die orige wedstryde kan kry om sodoende die uitspeelrondes te haal.

Saldanha, verdedigende Boland-kampioen, het Paternoster in ’n wegwedstryd 30-19 geklop en is twee punte voor St. Helenabaai.

Ander uitslae was: Mamre 41-15 Langebaan; Piketberg 10-50 Velddrif; en Hopefield 3-24 St. Helenabaai.. Hierdie naweek is dit Saldanha wat Mamre onthaal, St. Helenabaai speel gasheer vir Piketberg, Velddrif sal die naweek wil voortbou op sy goeie vertoning wanneer Young Hearts besoek aflê, terwyl Vredenburg sal wil voortbou teen Langebaan. Paternoster en Hopefield sal ook sake uitspook.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 November 2025
    Weslander E-Edition – 13 November 2025