AfriForum se Weskus-tak-plaaswag het ingespring om ’n veldbrand op ’n plaas in Hopefield te blus.


’n Brand wat Vrydagaand 18 Oktober by ’n plaaswerkershuisie op ’n plaas naby Hopefield uitgebreek het, kon vanweë vinnige reaksie in bedwang gebring word voordat dit na omliggende veld kon versprei.

Gerard Brune van AfriForum se Weskus-tak vertel dat die brand vermoedelik begin het weens ’n kers wat omgeval het. Hy vertel die plaaswerkers se woning het aan die brand geslaan en hulle kon die vuur se gloed op ’n afstand sien terwyl hulle saam met AfriForum Hopefield se plaaswagpatrollie gery het.

“Ons is dadelik soontoe saam met ses buurtwaglede. Die huisie waarin bejaarde mense gebly het, was erg gebrand en kon nie gered word nie. Hulle het geen lopende water daar nie en net ’n handgedrewe waterpomp op ’n boorgat. Ons kon darem daarin slaag om die vuur te beheer en ’n ernstige veldbrand verhoed,” sê Brune.

Ethne Lawrence, woordvoerder vir die Saldanhabaai-munisipaliteit, sê die beheerkamer het die oproep om 23:44 ontvang en die brandweer was om 00:22 op die toneel.

Teen 00:53 was die brand geblus. Met aankoms op die toneel was die strukture reeds aan die brand, dus kan nie vasgestel word wat die brand veroorsaak het nie,” voeg Lawrence by.

AfriForum-lede is Saterdag weer na die plaas toe om noodsaaklikhede aan die slagoffers te oorhandig.

. Nog ’n brand het op Maandag 21 Oktober by ’n huis in Hopefield uitge­breek. Lawrence sê brandweerdien­ste het omstreeks 14:35 die oproep ontvang, maar met hul aankoms was die brand reeds geblus. “Die oorsaak van die brand kon nie vasgestel word nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.