Brand bring groot skade by gewilde strandrestaurant

Eienaar, Justin Maltby, sê hy het versekering en hy hoop die grootskaalse herstel van die Strandloper kan so gou as moontlik begin.


Strandloper-restaurant in Langebaan

Die Strandloper-restaurant, ‘n legendariese buitelug-restaurant op die strand in Langebaan, het groot skade gely nadat ’n verwoestende brand gedeeltes van die restaurant vernietig het.

Volgens Justin Maltby, die eienaar van die gewilde instansie, het die brand die nag van 29 April om omstreeks 23:00 uitgebreek en is teen 01:00 geblus.

Hy sê gedeeltes van die struktuur is heeltemal vernietig onder meer die struktuur en visnette wat gedien het as outentieke dekor en beskutting vir die klante, asook tafels en stoele. Ook het ’n stoorkamer, afgebrand en ’n septiese tenk het heeltemal weggesmelt.

Maltby sê hy vermoed brandstigting, maar dat die polisie nog die saak sal ondersoek.

Maltby sê ook hy het versekering en hy hoop die grootskaalse herstel van die Strandloper kan so gou as moontlik begin. “Met die nasionale inperking mag ons op die oomblik nie die plek regmaak nie,” verduidelik hy.

Die Strandloper-restaurant is die tweede bekende Langebaan-restaurant wat in die bestek van ’n paar maande verwoes is. Die Driftwoods-restaurant het in Augustus 2019 helder oor dag, gedurende besigheidsure onder ’n verwoestende brand deurgeloop.

You need to be Logged In to leave a comment.