West Coast Sports Solutions (WCSS) van Hopefield het in Februarie ’n uitnodiging ontvang om 7’s-spanne vir ’n rooitapyt-geleentheid wat einde September in die Kaap plaasvind, in te skryf.
Dit sal ook die 15de jaar wees wat die 7’s-toernooi vir top-skole en organisasies op die Hoërskool Bellville se sportterrein gaan plaasvind. Volgens Russel Carelse van die JBC Stigting en die organisasie Starter Academy bring die kompetisie die beste jong rugbyspelers bymekaar.
Volgens Jean Jeftas, ’n bestuurslid van WCSS van Laaiplek, het hulle besluit om drie Weskusspanne in te skryf – ’n o.16- en o.19-span, asook ’n o.16- meisiespan.
“Dis ’n groeiplatform vir ons beste Weskus-rugbytalent, want by sulke kompetisies is gewoonlik talentsoekers,” sê Jefthas.
Buiten die rugby sal tieners ook as modelle kan oefen.
Die groepoefeninge om spanne te kies vind Saterdag 31 Augustus op die Vredenburg-sportterrein plaas, asook op twee ander velde wat later bekend gemaak sal word. Ouers wie se kinders in spanne gekies gaan word, sal vrywaringsvorms moet voltooi.
Om die dag ’n werklikheid te maak, word daar egter geldelike ondersteuning van ondernemings en individuele skenkings benodig. Al die spanne benodig kleredrag, soos truie, broeke en sokkies.
Ondernemings (of individue) wat kleredrag borg se logo sal op klere gedruk word. Die betrokke onderneming sal ook gratis op WCSS se webwerf kan adverteer.
Buiten die betrokke sportdag is daar in Oktober en November ook twee groot soortgelyke kompetisies in die Skiereiland.
. Skakel Jean Jefthas by 082 383 9843 of stuur e-pos na admin@wcsportssolutions.co.za vir meer inligting.