Die Saldanhabaai-poskantoor was weer eens ’n teiken van ’n gewapende roof op Vrydag 4 Februarie.
Tania Helfrich, plaaslike polisiewoordvoerder, sê twee onbekende mans, gewapen met vuurwapens, het om omstreeks 11:10 die poskantoor binnegekom en almal daar gedreig en in ’n kamer toegesluit. “Die kluis is geplunder en die verdagtes, wat in daardie stadium handskoene en maskers gedra het, het tussen R160 000 en R170 000 geneem en te voet gevlug. Die geld was bedoel vir Sassa-uitbetalings,” bevestig Helfrich. Johan Kruger, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Poskantoor, sê die poskantoor was vir die res van die dag gesluit totdat die polisie se forensiese ondersoek op die toneel afgehandel is.
“Die personeel van die poskantoor het traumaberading ontvang,” voeg hy by. Die jongste voorval kom ná ’n soortgelyke roof in Oktober 2021.
Helfrich sê niemand is nog in verband met Vrydag se rooftog, in hegtenis geneem nie.


