KYK: Bokkoms, roei en musiek

Die Bergrivier Winterkarnaval op Velddrif val jaarliks saam met die afeindiging van die laaste skof van die legendariese Bergrivier-kanomarathon. Duisende mense het vanjaar weer kom kuier om vir die roeiers te wag, en kon sien hoe word bokkoms geskil en verorber. Kyk gerus ook die video-insetsel.


Audren-Lee Witbooi (13) van Laaiplek span sy tande ook in om vinniger sy bokkom te kan skil.

Bergrivier Toerisme hou vir die laaste paar jaar ‘n baie suksesvolle Bergrivier Winterkarnaval om saam te val met die afeindiging van die legendariese Bergrivier kanomarathon by die Riviera Hotel op Velddrif.

Vanjaar met minder roeiers in die marathon en die koue natweer voorspel, het hulle nie geweet wat om te verwag nie, maar is hulle verstom deur die goeie ondersteuning wat die Winterkarnaval geniet het, vertel Yvette Odendal, toerismebestuurder.

Hulle reken daar het tussen 6500 en 7000 mense die dorp ingekom, ongeveer dieselfde getalle as verlede jaar.

“Dit bewys daar is ‘n plek vir die fees,” beaam sy.

Saterdagoggend 15 Julie is die fees oudergewoonte geopen deur die Velddrif orkes.

Teen 12:00 het mense begin nader staan op die Carinus-brug om vir die eerste roeiers te wag. Hongaar Adrian Boros het sowat ‘n halfuur later geskiedenis gemaak as die eerste internasionale roeier om die marathon, wat al 55 keer gehou is. Op sy hakke was Graeme Solomon en derde die Tjeg Petr Mojzisek.

Bianca Beavitt van Langebaan was vir die derde jaar die vroue-wenner.

Die bekende Silwer Valke van Langebaanweg-lugmagbasis het ook ‘n skouspelagtige verbyvlug gelewer (CLIP)

Hierna was dit tyd vir die Bokkomhoofstad om sy naam gestand te doen met die jaarlikse bokkomskil- en bokkom-eetkompetisie. Sanger Steyn Fourie het die deelnemers laat sit kry en selfs ‘n paar mense uit die gehoor gekry om ‘n paar te borg voor daar met erns weggespring is. 

Die skillers het geskil dat die bloed letterlik gespat het met Rita Maarman (39) van Noordhoek as wenner wat R500 gewen het. Sy het 10 bokkoms in 3 minute geskil. 

Hierna was dit tyd om bokkoms te eet met Andre Venter (15) van Velddrif as algehele wenner vir die meeste bokkoms verorber. 

You need to be Logged In to leave a comment.