Die ikoniese Bokkomlaan in Velddrif is lank reeds ‘n gewilde toeriste-bestemming – ‘n plek waar geskiedenis, die natuur en kultuur saamvloei. Dié bekoorlike vissershuisies lê langs die Bergrivier en hier word al geslagte lank bokkoms, harders en ander visspesies verwerk.
Vandag lok die laning met sy karaktervolle huisies, voëls, koffieplekke en tuisgebakte lekkernye besoekers van oral.
Agter die rustigheid en nostalgie skuil egter ‘n groeiende bekommernis. Verskeie eienaars van die vissers- huisies sê hul besitregte en kontrakte word stadig verander, “woord vir woord”, sonder behoorlike kommunikasie of instemming.

Volgens Pieter en Christelle Smit, wat reeds 12 jaar lank twee van die huisies besit en self bokkoms verwerk, raak die onduidelikheid nie net hul familie-erfenis nie, maar ook hul brood op die tafel. Die Smit-gesin verskaf werk aan vissermanne, wat saam vir sowat 15 gesinne se inkomste sorg.
“Ons is skielik ingelig dat die besitreg-ooreenkoms verander het,” vertel Christelle. “Die nuwe kontrak wat die Bergrivier-munisipaliteit (BM) aan ons gestuur het, verskil van wat ons al jare lank onderteken.”
Bianka Mostert en haar verloofde, Dirkie Voges, die huurders van Vishuis 5 – Velddrif Dagbreek-visserye – deel ‘n soortgelyke ervaring. Hul onderneming ondersteun tien gesinne. “Ons moet jaarliks ons kontrak hernu,” het Bianka aan Weslander gesê. “In Julie is ons meegedeel die voorwaardes het verander en die geboue gaan moontlik uitgetender word. Dit het ons almal geweldig ontstel.”

Volgens Rudolph de Villiers, ‘n sakeman en aktivis vir die bewaring van Bokkomlaan, verander die kontrakte al vir sowat 20 jaar geleidelik.
“Die breukpunt het gekom toe die BM begin het om selfs privaat geboude vissershuisies op tender te plaas,” sê hy.
Hy verduidelik dat dokumente wat terugdateer na die 1950’s toon dat baie van die geboue reeds bestaan het lank voordat Velddrif amptelik ‘n dorp geword het. “Die grond is destyds aan die munisipaliteit geskenk, maar die geboue is privaat gebou en besit,” voeg hy by.
Rekords wys toe Velddrif in 1966 die grond amptelik oorgeneem het, die munisipaliteit ‘n duidelike skeiding gemaak het tussen die grond (munisipale eiendom) en die geboue daarop (private besit). Tog, sê De Villiers, het die BM oor die jare die bewoording verander – van “private geboue” na “kontraktuele besitreg” en uiteindelik na “property”, wat volgens hom nou die moontlikheid oop laat dat die BM aanspraak kan maak op beide die grond en die gebou.
“Vir sulke wysigings moes die BM elke sake-eienaar behoorlik ingelig het,” sê De Villiers.
“Dit het egter nooit gebeur nie.” Afriforum is intussen vir hulp genader en volgens De Villiers het hulle reeds verskeie versoeke vir verduideliking aan die BM gerig. “Ons wag nog op terugvoer,” sê hy.
“Die munisipaliteit het wel ‘n regsdokument voorsien wat sy besluite probeer regverdig, maar die mening is gebaseer op onvolledige en oningeligte feite. Dit is duidelik dat belangrike dokumente weerhou word wat die BM se standpunt versterk en die vissers se saak verswak.”
Vir die mense van Bokkomlaan gaan dit nie net oor kontrakte en klousules nie, maar oor geslagte se trots en erfenis.
“Baie van hierdie ondernemings in die huisies is al byna 70 jaar lank in dieselfde familie,” sê De Villiers. “Om nou te sê dit is nie private eiendom nie, is om ons geskiedenis te ontken.”
Weslander se pogings om kommentaar van die Bergrivier-munisipaliteit te verkry was tot dusver onsuksesvol. Geen skriftelike reaksie is teen druktyd ontvang nie.
Intussen leef die vissers en families van Bokkomlaan voort – vasbeslote om hul trotse erfenis en lewenswyse te beskerm teen die administratiewe golwe wat hul bestaan deesdae opnuut bedreig.






You must be logged in to post a comment.