Ek is nie iemand vir ingewikkelde resepte nie, veral nie wanneer dit vakansie is nie. Minder tyd in die kombuis, beteken meer tyd saam met my mense.
Ek het hierdie resep gekies oor die eenvoud daarvan. Die woord eenvoud is ook vir my sinoniem met die Weskus. Bokkom- en jêm-brood is so ongekunsteld en opreg soos die mense van hier. En die smaak daarvan is natuurlik nes ’n eerste besoek aan die Weskus – of jy like dit, of jy like dit nie. Maar hierdie tradisionele kontreihappie kan natuurlik op jou groei, nes die Weskus se dorre, windverwaaide vlaktes.
Wat het jy nodig?
• Bossie bokkoms (visbiltong) (te kry in Bokkomlaan, Velddrif, of Paternoster)
• Varsgebakte brood
• Gesoute plaasbotter
• Appelkooskonfyt in ’n blik
- • Heel vyekonfyt en bloukaas
Wat nou?
Sny die bokkoms se koppe en sterte af. Skil en trek “dermpie” uit. Sny of skeur in kleiner stukke. Smeer ’n sny vars brood dik met plaasbotter. Smeer appelkooskonfyt bo-oor. Bedek die brood met stukkies van die bokkom.
Bedien met ’n beker moerkoffie of ’n glas vaaljapie.
Jy kan afwissel met botter, heel vyekonfyt, bloukaas en bokkom.


