
Nie net is hy onderstebo aan ‘n aluminiumpaal gehang nie, maar hy is ook in ‘n blou polisievlag toegedraai en met knuppels geslaan.
Só het Boeta Appolis Vrydag 11 April getuig in die uitgerekte binneverhoor in die hoofgeregshofsaak oor Joshlin Smith se verdwyning.
Dié Middelpos-inwoner staan saam met sy vriend, Steveno van Rhyn en Joshlin se ma, Kelly Smith tereg op aanklagte van ontvoering en mensehandel.
Die saak word in die Veeldoelige Sentrum (Multipurpose Centre) in White City, Middelpos, aangehoor sedert Maandag 3 Maart.
Die binneverhoor word gehou sodat regter Nathan Erasmus kan beslis of Appolis en Van Rhyn se bekentenisse, wat hulle twee weke ná Joshlin se verdwyning afgelê het, wel toegelaat gaan word as bewysstukke. Dit vorm deel van die staat se saak.
Appolis het getuig dat hy baie bang was terwyl hy die bekentenis afgelê en tydens sy besoek by die dokter vóór die bekentenis.
Volgens Appolis is hy voorgesê oor wat hy in die verklaring moet sê en dat hy nie vir die dokter mag gesê het hoe hy die beserings aan sy oog, gesig, knieë en voete opgedoen het.
Hy het ‘n storie opgemaak dat hy homself beseer het toe hy by ‘n polisievangwa ingeklim het.
Appolis het getuig dat ‘n groep polisiebeamptes wat hom by die seegrenseenheid ondervra het, hom eers net uitgevra het oor die gebeure van Maandag 19 Februarie, die dag waarop Kelly vir Joshlin by die Saldanha-polisiestasie as vermis gaan aanmeld het.
Appolis beweer dat die polisiebeamptes nie tevrede was met sy verduideliking nie en hom aangesê het om “te loop k*k, vandag vrek jy”. Hierop is hy glo afgeruk van die stoel waarop hy gesit het en teen die grond vasgedruk op sy rug. Sy hande is aanmekaar geboei en sy arms oor sy knieë gesit.
Twee manlike polisiebeamptes het hom toe glo opgelig, “‘n Xhosaman en ‘n kleurlingman met ‘n baard”.
Hy is toe gevra waar Joshlin is. Hy het gesê hy weet nie. “My bene was op in die lug en my kop het afgehang.”
Een van die polisiebeamptes, volgens Appolis die een met ‘n swartsak in sy hand, het aan hom gevra of hy Jesus ken? Toe Appolis sê ja, is die swartsak na bewering die eerste keer oor sy kop getrek.
Terwyl die swartsak oor sy kop was, is hy aangesê om sy kop te skud om aan te dui as hy wou praat.
“Soos ek voel ek kon nie asemhaal nie, het ek my kop geskud.” Hy het glo oor en oor gesê dat hy nie weet waar Joshlin is nie. “Soos ek vir hulle so sê, so slat hulle my met knuppels op my knieë, voete en hande. Klap my deur my gesig.”
Die bebaarde kleurlingman het hom glo so hard met ‘n voorwerp geslaan dat hy duiselig gevoel het.
Die aanranding het glo aangehou tot lank na dit donker buite geword het. Appolis is omstreeks 16:00 na die seegrenskantoor geneem op Maandag en het getuig dat die marteling en ondervraging aanhou het tot in die nanag.
Appolis het ook getuig hy het gesien hoe Van Rhyn op dieselfde manier gehang en aangerand word.
Hierna is Appolis glo in ‘n groot, blou polisievlag toegerol met sy hande vasgebind met plastiekkabels en met knuppels geslaan. Dit het na bewering eers opgehou nadat Van Rhyn op dieselfde manier onderstebo gehang word.
Die beweerde aanrandings het glo eers opgehou nadat Van Rhyn hulle ingelig het oor ene Makalima.
Volgens Appolis het hy die polisie na Makalima se huis toe geneem.
Terug by die seegrenseenheid, het hy gesien hoe ‘n geboeide Makalima onder haar voete met knuppels geslaan word.
Die binneverhoor sal na verwagting vandag afgehandel word, waarna die verhoor weer op Dinsdag 15 April hervat gaan word.
You must be logged in to post a comment.