‘n Weskusplaas se landerye staan groen in die laatmiddagson. Foto: Louis Buckle

Met die swaar reënval wat die afgelope tyd in dele van die Weskus amok gesaai het, sê ‘n paar boere hulle het gelukkig tot dusver geen ernstige skade op hul plase ondervind nie.

Volgens Graeme Melck, wat op die plaas Kruispad met beeste en skape boer en plantvoer vir diere verskaf, was die reën ‘n klein bietjie laat met taamlik windskade aan die begin.

Hy sê met darem nie te veel oorstromings nie moes hy egter ‘n gewas of twee weer plant en gronderosie plek-plek herstel.

“Party gewasse op die kleilande het wel ‘n bietjie versuip. Die gewasse wat die nat en winderige weer die beste hanteer het, is my lupiene. Ek glo ons gaan ‘n goeie jaar hê.”

De Wet Steyn, voorsitter van die Vredenburg-landbouvereniging en wat op die plaas Wolfiesfontein met koring, skape en beeste boer, meen die reën was baie nodig omdat die seisoen ‘n bietjie laat begin het. Hy is dankbaar vir die reën wat hulle wel gekry het.

Soos by Melck het die reën nie veel skade op Steyn se plaas veroorsaak nie. Of ‘n daling of verbetering in die opbrengs in die seisoen verwag kan word, is volgens Steyn nog baie vroeg om te voorspel. “Ons hoop ons sal nog opvolgreën tot die einde van die jaar ontvang – veral in September en Oktober; juis, omdat September ‘n bepalende

faktor is vir hoe die oes gaan wees.”

Melck deel dié sentiment en sê dit is nog ‘n bietjie te vroeg om te voorspel hoe dinge vorentoe sal verloop.

Albei deel ‘n groot liefde en passie vir boerdery, wat diep in hul are loop, en hulle hoop hul opbrengs en oes sal vanjaar bevredigend wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 27 November 2025
    Weslander E-Edition – 27 November 2025

Gift this article