Lede van die Vredenburg-landbouvereniging het besluit om van die 32 ton mielies wat hulle twee weke gelede by die Villiersdorp-Tafelronde gekry het, aan die lede van die Vredenburg-kleinboervereniging te gee.
Peter Steynberg, takbestuurder van Agrimark, het Donderdag 23 November saam met van sy personeel altesaam 2,5 ton mielies by die kleinboere se skuur gaan aflaai. Steynberg se span het die mielies in 50 kg-sakke verpak.
Die koste van mielies beloop nou al R2 650/ton.
Die groep kleinboere gaan die mielies hoofsaaklik vir voer vir hul skape gebruik. Baie van hulle boer ook met varke en bokke.
Die kleinboer Blades Maritz sê die mielies kom “soos manna uit die hemel”.
“Ons sê tienduisend dankies. Ons waardeer dit en hoop die Here seën húlle weer.”
Die afgelope vier jaar se droogte raak die groep kleinboere, wat op stukke grond agter die munisipale vullisterrein boer, net so nadelig.
Leon Avenant, die voorsitter van die landbouvereniging, het hulle van goeie raad bedien oor presies hoeveel en hoe om die voer te gee om die beste daaruit te put. Hy het ook verduidelik waarmee dit gemeng kan word.
Avenant het ook benadruk hoe belangrik dit vir kleinboere is om by georganiseerde landbou betrokke te raak sodat hulle ook uit die voordele, soos dié skenking, kan put.
Hy het ook die versekering gegee dat die landbouvereniging ’n lid van die kleinboervereniging by die groter landbouvereniging gaan betrek.