Ursula Peter van Britannica Heights in die Agterbaai. Foto: Danie Hefers

Sy het swerwersbloed in haar are en ‘n ewige liefde vir plante en die natuur. Sy is ook ‘n skrywer en passievol oor die Weskus se mooi.

Ontmoet Ursula Peter van Britannica Heights in die Agterbaai.

Ursula het pas haar boek Off the Beaten Track voltooi en Weslander het met haar gaan gesels – by haar huis in St. Helenabaai met ‘n praguitsig oor die see en Sandy Point se bedrywige hawe, waar vistreilers en soms snoekbote kom en gaan.

Sy woon hier saam met haar man, John, en hul gemmerkat, Rusty.

Die 70-jarige Ursula se persoonlike reis het vele paaie geloop en haar boek vertel interessante stories van oorlewing, oppak-en-trek, nuwe wortels groei, kampering, vele aanpassings en uitdagings, kultuurskokke en nuwe werksplekke – Tsumeb in Namibië, Frankfurt in Duitsland, Welkom in die Vrystaat, Port Elizabeth in die Oos-Kaap en selfs ‘n gastehuis in Zambië.

En nou hier in die Weskus… om slegs ‘n paar te noem.

Die avonture in Ursula se versameling reisverhale en persoonlike herinneringe begin in Mei 2005 met die egpaar se voorbereiding en reistog na Zambië en eindig in Februarie 2021 en die hede in St. Helenabaai aan die Weskus.

Lesers van dié boek word meegevoer deur die skrywer se persoonlike aanslag en gemaklike skryfstyl. Dit is kortverhale gevul met lewensvreugde, frustrasies, hoop én teleurstellings. Die boek is ‘n lewensverhaal propvol soeke én vind van vastrapplekke, waar asem geskep en later wéér nuwe reisplanne gemaak is vir ‘n volgende opwindende en leersame bestemming, werkplek, kampeerterrein of tydelike woonhuis.

Ursula was vir 16 jaar ‘n alleenloper ná ‘n egskeiding. Toe ontmoet sy John, ‘n geesgenoot wat haar liefde en passie vir reis, avontuur, sport en die natuur kon deel. En – soos Ursula dit self in haar boek verwoord – is die res geskiedenis…’n Lewe wat sy en John voluit geleef het.

Ursula onthou haar kinderjare op ‘n plaas naby Tsumeb in Namibië met heimwee én hartseer oor die stukkie trauma wat sy vir dekades as persoonlike bagasie saamgedra het.

Volgens Ursula is sy op haar eerste skooldag by ‘n Duitse skool in Otavi deur twee meisies geblinddoek en seksueel gemolesteer. Sy het dié “geheim” vir 40 jaar alleen gedra voordat ‘n senu-ineenstorting haar gedwing het om uiteindelik berading te soek.

Nadat sy John in 2004 in Port Elizabeth ontmoet het, het haar lewe weer betekenis en rigting gekry. Saam het dié egpaar, met hul byna onblusbare ondernemingsgees en jukkende reisvoete, hul droom gelééf.

Die lewe se onvoorspelbaarheid het egter vir nóg ‘n onverwagse opslagbal gesorg: “Demensie is by John gediagnoseer en hy ervaar gesondheidsprobleme.

“Ek was platgeslaan en het aan depressie en angstigheid begin ly. Skryfwerk vir my boek het my egter gehelp om te herstel. Ek is nou 70 jaar oud en genees.”

St. Helenabaai is vir nou Ursula, John en Rusty ‘n tuiste en veilige hawe. Hul huis in Britannica Heights – hoog teen die skuinste – het ‘n praguitsig oor die bedrywige Langpad en Hannasbaai. Net tyd sal egter bepaal wáár en wanneer die slothoofstuk van dié egpaar se lewensverhaal geskryf gaan word.

• Kontak Ursula vir boekbestellings by 072 197 3354 of per e-pos by

ursulapeter55@gmail.com

Kopieë van Ursula se boek, Off the beaten track.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 November 2025
    Weslander E-Edition – 13 November 2025